Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 23 November

TEMA VAN DIE WEEK: HOOGTEPUNTE VAN DIE JAAR. In hierdie week wil ek terugkyk na ’n paar hoogtepunte uit die verskillende reekse wat ek oor die afgelope jaar behandel het.

REEKS 2: VAN VREES NA VRYHEID

TEMA: BESKERM DIE VREDE IN JOU HART

Deur Benescke Janse van Rensburg

Was jy al ooit op ’n Saterdagmiddag tydens ’n belangrike rugbywedstryd op pad na ’n ander funksie? In sulke tye word die radio noodgedwonge aangeskakel om die wedstryd via die radiokommentator te volg. Gestel nou, nes die spannende wedstryd sy einde nader, hoor jy skielik: “Gggggg....” ’n Seinonderbreking omdat jy tussen die klowe deurry! Frustrerend, nie waar nie? Veral as die radiosein eers herstel nadat die wedstryd reeds verby is en jy die finale telling misgeloop het!

Die vrede en harmonie in ons lewens kan met hierdie radiosein vergelyk word. Soms ervaar ons ’n rustigheid en vrede in ons gemoed terwyl ons die stem van die Heilige Gees duidelik kan hoor. Tog, wanneer ons in vrees begin leef of sonde geleidelik in ons lewens toelaat, sal ons vind dat hierdie vrede in ’n onrustigheid verander en dat daar ’n “seinonderbreking” met die Heilige Gees ontstaan.

Die vyand is daarop uit om jou vrede te steel. Waarom? Sonder vrede voel jy onrustig. Jy sukkel om besluite te neem. Jy raak makliker geïrriteerd. Jou vrese en bekommernisse raak al groter. En meestal dryf jy mense van ons af weg eerder as om hulle nader na jou toe te trek.

Hoe steel die vyand jou vrede? Hy plaas ’n stadige bestuurder voor jou in die verkeer en jy verloor jou humeur. Hy plaas ’n gedagte in jou kop dat van jou kollegas van jou skinder (terwyl jy reeds sukkel met verwerping). Hy laat jou onnodig stres oor jou kind se veiligheid. Of hy oortuig jou dat jy nie met jou finansies deur die maand gaan kom nie. Sy hoofdoel is om die harmonie en “sein” met die Heilige Gees te versteur en jou fokus só weg van God en vierkantig op jou vrese en bekommernisse te plaas.

Hoe herstel jy hierdie vrede in jou lewe? Die maklikste is om Paulus se raad in Filippense 4:6-7 te volg: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ervaar jy tans vrede in jou hart? Of sit jy dalk met daardie onverklaarbare hol kol op jou maag? Kies vandag om jou sonde voor God te bely. En kies ook om weg te kyk van jou vrese en jou fokus terug op Hom te plas. Dit is immers net Hy wat jou vrede en sein met die Heilige Gees kan herstel en hiermee saam aan jou daardie vrede kan gee wat alle verstand te bowe gaan! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek met elke bekommernis in my hart na U mag kom. Ek plaas vandag (noem jou bekommernis) by die kruis neer. Plaas asseblief weer daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan terug in my hart. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

NUUSBROKKIES:

  1. BESTEL NOU: Jy kan Benescke se boek, Ontdek God in die stories van mense nou aanlyn by www.kalahari.net bestel. Jy behoort dit binne 4 werksdae te ontvang. Ideale Kersgeskenk.

  2. 2 DAE OM TE GAAN. . . Moenie Benescke se boekbekendstelling op Donderdagaand, 25 November by die Wordsworth in die Willow Bridge Sentrum in Durbanville misloop nie. Dit begin 18:00 vir 18:30. Kom ontmoet haar en kry jou getekende kopie. Die boek, Ontdek God – in die stories van mense sal beskikbaar wees by CNA, PNA, Exclusive Books en Wordsworth. Jy kan dit ook aanlyn by www.kalahari.net bestel.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou onlangs of in die verlede deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As dit aansluit by een van ons tema sal ons dit graag weer met die lesers wil deel. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

 

 

Previous article: Vers n dag - 24 November Prev Next article: Vers n dag - 22 November Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.