Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 25 November

TEMA VAN DIE WEEK: HOOGTEPUNTE VAN DIE JAAR. In hierdie week wil ek terugkyk na ’n paar hoogtepunte uit die verskillende reekse wat ek oor die afgelope jaar behandel het.

REEKS 4: FAMILIE, OUERSKAP, HUWELIK, ENKELLOPENDES

TEMA: BEHAAL OORWINNING OOR “VERHOUDINGSDIEWE”

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Saam het ons in September vyftien “verhoudingsdiewe” geïdentifiseer wat verhoudings (tussen man en vrou, ouers en kinders, skoonouers en aangetroude kinders, kollegas of vriende) potensieel kan vernietig. Hier is weer ’n kykie na vyf van hierdie “diewe”.]

DIEF 1: GAAN SLAAP KWAAD

Efesiërs 4:26-27: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”

Wat is jou reaksie wanneer jy genoeg rede het om kwaad te word? Gaan slaap jy op die bank? Kry jy stilstuipe en vermy jou huweliksmaat, jou vriendin of selfs ’n ouer dae lank? Of is jy eerste om die telefoon op te tel om só te verhinder dat ’n dag kwaad afgesluit word?

DIEF 2: SELFSUGTIGHEID

1 Korintiërs 13:5: “Dit (die liefde) . . . soek nie sy eie belang nie. . .”

Ons menslike aard veroorsaak dat ons meestal eers aan ons eie belange dink voordat ons iemand anders in ag neem. As ’n mens nie oplet nie, kan dit in selfsug omsit omdat jy nou ook in ’n vriendskap, huwelik, gesin of werksplek net aan jou eie belange dink – ten koste van ander.

DIEF 3: DIE VERLEDE

1 Korintiërs 13:5: “Dit (die liefde) . . . is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.”

Soms fokus ons só op wat in die verlede verkeerd geloop het dat ons, ons huweliksmaats, ons vriende of kollegas van ’n wonderlike verhouding in die hede beroof. Dit is te verstane dat jy te na gekom en beroof voel deur jou huweliksmaat se buite-egtelike verhouding of jou kollega se onbeskofte gedrag, maar besef jy dat jy, deur aanhoudend ou koeie uit die sloot te grawe, jou huidige verhouding vernietig?

DIEF 4: ’N TONG WAT NIE IN TOOM GEHOU WORD NIE

Spreuke 21:19: “Liewer in ’n woestyn woon as by ’n twisgierige vrou (of man) wat aanhou neul.”

Spreuke 25:24: “Liewer bo-op ’n dak woon as saam met ’n twisgierige vrou (of man) onder een dak.”

Wat is die geur wat jy met jou saamdra? Is dit een van liefde of kla jy die heeltyd? Mag jy van vandag af daarop fokus om jou tong in toom te hou sodat jou geliefdes verkies om by jou te woon – eerder as bo-op ’n dak of in ’n woestyn!

DIEF 5: VERKEERDE PRIORITEITE

Mattheus 6:19-21: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Wat is die belangrikste in jou lewe? Dink ’n oomblik lank eerlik daaroor na. Jou werk? Jou sport? Jou geld? Of kan jy eerlik antwoord dat jou verhoudings vir jou die belangrikste is? Ek wonder: Wat is die waarde van ’n suksesvolle loopbaan as jy dit met niemand kan deel nie? Of wat is die waarde van ’n gesonde bankbalans as jy aand na aand alleen by die huis kom omdat jy jou geliefdes van jou af weggestoot het? Natuurlik is dit goed om suksesvol te wees en hard te werk, maar nie ten koste van jou verhoudings nie.

Kies om van vandag af jou prioriteite reg te stel. Stel God eerste in jou lewe en stel jou verhoudings tweede. Jy mag dalk net verbaas wees oor die hoogtes wat jy sal bestyg en die genot wat jy sal ervaar wanneer jy in sterk verhoudings in jou lewe belê het.

Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om my daagliks in my verhoudings te lei. Help my asseblief om U eerste in my lewe te stel en my verhoudings tweede. Help my om my tong in toom te hou. Ook wil ek U vra om my te help om van die verlede te vergeet en eerder op die huidige verhouding te fokus. Maak my oë oop waar ek selfsugtig optree en gee aan my die krag om te vergewe en nie kwaad te gaan slaap nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

NUUSBROKKIES:

1.      NUWE WEBWERF: Besoek gerus Benescke se nuwe webwerf, www.benescke.co.za en laat weet haar jy dink by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

2.      BOEKBEKENDSTELLING. . . Moenie Benescke se boekbekendstelling op Donderdagaand, 25 November by die Wordsworth in die Willow Bridge Sentrum in Durbanville misloop nie. Dit begin 18:00 vir 18:30. Kom ontmoet haar en kry jou getekende kopie. Die boek, Ontdek God – in die stories van mense sal beskikbaar wees by CNA, PNA, Exclusive Books en Wordsworth. Jy kan dit ook aanlyn by www.kalahari.net bestel.

3.      BESTEL NOU: Jy kan Benescke se boek, Ontdek God in die stories van mense nou aanlyn by www.kalahari.net bestel. Jy behoort dit binne 4 werksdae te ontvang. Ideale Kersgeskenk.

VORIGE STUKKE? Kry van die vorige dagstukkies op ons webwerf, www.versndag.co.za.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkiesofBybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou onlangs of in die verlede deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As dit aansluit by een van ons tema sal ons dit graag weer met die lesers wil deel.Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 26 November Prev Next article: Vers n dag - 24 November Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.