Dag 3: Nogtans sal ek onthou dat God vir my veg - 3 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ek kyk nou die dag ’n animasieprent saam met my 2-jarige dogtertjie. In een van die tonele staan twee eekhorings op die strand en kyk uit oor die see. Meteens gewaar hulle ’n tsunami-grootte brander wat die kus met ’n spoed nader. Vrees verskyn op beide eekhorings se gesigte omdat hul besef dat dit hulle heel moontlik gaan verswelg.
Die reaksie van die twee eekhorings is egter verskillend. Terwyl die eerste eekhoring paniekerig begin rondhardloop en desperaat na ’n wegkruipplek soek, staan die ander eekhoring asof met ’n stille selfvertroue die brander en dophou – kompleet asof hy glo dat iets of iemand die brander gaan stop. Dan, net voordat die brander die kus tref om die eekhorings te verswelg, vries dit meteens vas. Van êrens agter die brander was die water besig om vas te vries en die ys het die brander op die regte tyd bereik voordat dit die kus kon tref.
In ons lewens gebeur dit ook van tyd tot tyd dat dit voel asof ’n tsunami-grootte brander op pad in ons rigting is met die dreigement om ons te verswelg. Dit kom in die vorm van byvoorbeeld ’n onregmatige dissiplinêre verhoor in die werkplek, ’n dreigende egskeiding, finansiële verlies of dalk slegte nuus oor jou gesondheid. Wanneer dit voel asof vrees ons wil lamlê het ons ook ’n keuse om óf paniekerig rond te hardloop en desperaat na ’n uitkoms te soek, óf ons kan soos die tweede eekhoring die saak met God bespreek en dan in geloof en vertroue op die strand stelling inneem met die wete dat Hy namens ons sal veg.
Laasgenoemde is wat die Israeliete gedoen het. In Eksodus 14 lees ons dat hulle hulself in ’n situasie bevind het waar die bruisende see hulle van voor begroet het en die gevreesde Egiptenare van agter. Luister na Moses se woorde in Levitikus 14:13-14: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Ook in Deuteronomium 20:4 lees ons: “Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.” En in 2 Kronieke 20:17 is ’n oormag op pad om Juda te verswelg. Weer is God se opdrag aan die volk: “Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.”
Wanneer ons besef dat ’n situasie buite ons beheer is en ons God, die Skepper van die heelal, aanroep met ’n rein hart, kan ons net soos die tweede eekhoring met selfvertroue en geloof stelling inneem met die wete dat God namens ons veg. Al is die brander steeds op pad, is die ys ook. Die antwoord en deurbraak is dalk baie nader as wat jy dink. Maak Hom jou vennoot en laat Hy namens jou veg. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U elke gebed wat ek bid hoor en dat U my toekoms ken. Help my asseblief om ten spyte van aanslae my oë op U te hou met die wete dat U arm nie te kort is om te help nie en U oor nie te doof om te hoor nie (Jesaja 59:1). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
- As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.