Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 4: Nogtans sal ek op U bly vertrou - 4 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Gedurende 2009 het Jan Koum en Brian Acton by Yahoo! gewerk. Beide wou graag by die sosiale mediareus, Facebook aansluit en het hul werksaansoeke soontoe gestuur. Ongelukkig is beide se aansoeke van die hand gewys. Teleurgesteld het die twee besluit om saam ’n nuwe applikasie vir slimfone te begin bou, naamlik WhatsApp.

Vyf jaar later, in 2014, het Facebook die WhatsApp-maatskappy vir $19 miljard van Koum en Acton gekoop. Koum is terselfdertyd as die uitvoerende hoof van WhatsApp by Facebook aangestel. Dit is onbekend watter pos Acton tans beklee. Sedertdien het die aantal WhatsApp-gebruikers verdubbel en Maandag verby die 1 miljard kerf beweeg wat dit die wêreld se grootste boodskapdiens maak, met 1 uit 7 mense ter wêreld wat die applikasie gebruik.

Soms beleef ons ook, net soos Koum en Acton, toe deure wat ons onkant betrap. Jy doen byvoorbeeld ook aansoek om ’n werksgeleentheid by daardie “droommaatskappy” en word afgekeur; die verhouding wat jy oortuig was in ’n huwelik sou eindig, breek op; die huwelik waarvoor jy hard geveg het, eindig in ’n egskeiding; of daardie siek persoon vir wie jy dag en nag gebid het, sterf.

Wanneer ons voor ’n toe deur staan of ’n teleurstelling beleef, is dit uiters belangrik om perspektief te behou en ons fokus eerder na God as die deur te skuif. Hy verander nooit nie en omdat Hy ons elkeen se toekoms ken en buite tyd en ruimte soos ons dit ken werk, kan ons rustig ons vertroue in Hom plaas. Met verloop van tyd beleef ons meestal hoe daardie toe deur juis God se manier was om ons van verdere seer of verkeerde besluite te beskerm.

In Openbaring 3:8-9 sê God: “Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie.” God hou die sleutels vas om deure vir ons oop of toe te sluit. Ons moet Hom bly vertrou – selfs al maak dinge nie sin nie. In Jesaja 55:8-9 herinner Hy ons immers: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

Ek kan nie help om te wonder of WhatsApp ooit die lig sou sien as Koum en Acton in 2009 die werk by Facebook gekry het? Tog is ek oortuig dat nie een van die twee vandag spyt is oor die destydse verwerping nie. Daardie toe deur was juis wat hulle benodig het om iets te ontwerp wat vandag kommunikasie vir ons almal vergemaklik.

Watter teleurstellings beleef jy tans? Moenie te lank voor die toe deur staan en tob nie. Sien dit as ’n geleentheid om te groei, nuwe dinge te ontdek en God in die proses beter te leer ken. Onthou, Hy ken jou toekoms en jy mag dalk net soos Koum en Acton uitsonderlike vreugde beleef sodra die volgende deur oopgaan. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U nooit sluimer of slaap nie en dat U my toekoms ken. Help my asseblief in die “toe-deur-oomblikke” om nie vas te staar in die teleurstelling nie, maar my oë op U te hou wat besig is om agter die skerms te werk met die wete dat U in beheer bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Previous article: Dag 5: Nogtans sal ek ’n loflied sing - 5 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 3: Nogtans sal ek onthou dat God vir my veg - 3 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.