Vers n dag - 29 November
Meditasie op ’n reis deur die koninkryk
Hennie Symington
Ons ons reis deur die jaar staan einde se kant toe, hoewel die pad nog lank nie klaar is nie. In hierdie maand van kersfees nooi ek u uit op ʼn anderste soort reis. Nie een van ʼn oorsese reis of na die naaste vakansieoord nie – maar ʼn reis na die verste uithoeke van jou siel waar geheime sondes deur die jaar soos stof op die solder vergaar het. Jy hoef nêrens heen te gaan nie; al wat jy hoef te doen om hierdie reis te onderneem is om in jou in jou binneste stil te raak.
Dit is ʼn reis na die diepste, verste plekke in jou hart waar jy dalk afgestomp geraak het teenoor ander se lyding. Dalk is dit ʼn reis na die dorre woestyne waar jy die waarheid as ekstra bagasie agtergelaat het; of selfs ʼn ekspedisie na die donker woude van jou hart waar jou geloof verstrengel geraak het in welige ranke wat jou daarvan weer hou om die eenvoud van God se boodskap raak te sien. Miskien is dit ʼn reis na eilande van afsondering waar jy verdwaal het op soek na jouself.
Meditasie:
Christus, U nooi my op ʼn reis terug na die eenvoud van die krip sodat ek die Kind op nuut kan ontdek.
Skrifgedeelte: En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria sy moeder gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Mt. 2:11
Heilige Gees, U nooi my uit op ʼn reis na waar die onsienlike sienlik geword het en die onwaarskynlike waarskynlik.
Skrifgedeelte: En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ʼn heerlikheid soos die van die Eniggeborene wat van die Vaer kom – vol genade en waarheid.Joh. 1:14
God, reis U saam met my sodat ek die grootste wonder van die heelal – God wat mens word - onbevange kan ervaar. Gee my die moed om my oë te open sodat ek u liefde kan raaksien en kan voltrek.
Skrifgedeelte: Niemand het ooit God gesien nie, die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. Joh. 1:18