Dag 13: Nogtans sal ek positief praat - 17 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
In 2013 was die Sekondêre Skool Walmer, net buite die Kaapse middestad, se slaagsyfer vir die matriekeindeksamen slegs 50%. Die onderwysers het besef dat as hul nie iets daadwerkliks doen nie, die skool teen ’n afdraande pad was. Een van die onderwysers, Nandipha Mwezo, kom toe met ’n vreemde voorstel na vore: Elke nou en dan het sy een van die matriekleerders voor in haar klas op ’n stoel laat sit. Vir die volgende halfuur moes die res van die klas daardie leerder opbou met komplimente. Nandipha vertel dat sy besef het, dat baie van die leerders in die klas nie dié soort ondersteuning by hul huise kry nie. Sy wou ’n ruimte daarvoor skep.
Groot was die personeel van die Sekondêre Skool Walmer se verbasing toe hul slaagsyfer van matrikulante in 2014 van 50% na 88% styg. Verlede jaar was die slaagsyfer 91,5%. Dié prestasie het veroorsaak dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement die skool vereer het met ’n toekenning vir die grootste verbetering in sy slaagsyfer sedert 2013.
Besef jy dat ons met ons woorde skep of vernietig – opbou of afbreek? In Spreuke 18:21 lees ons: “Lewe en dood is in die mag van die tong.” In Psalm 141:3 voeg die Psalmdigter by: “Sit ’n wag voor my mond Here. Hou tog wag oor wat ek sê.” En in Esegiël 37 wys God vir Esegiël ’n vallei met droë bene wat Israel se geestelike toestand geïllustreer het. Dan gee Hy die opdrag aan Esegiël: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word” (Esegiël 37:4-5). Esegiël het God se opdrag gehoorsaam en verstom gestaan en kyk hoe die dor mensbene bymekaarkom, vel oorkry en God sy Gees in hul blaas om lewend te word.
In ons lewens ervaar ons ook van tyd tot tyd areas wat soos hierdie vallei met dor, droë bene voel. Dit kan wees ’n geliefde wat sukkel met ’n verslawing, skuld wat ophoop, ’n huwelik sonder eenheid, ’n uitdagende werkplek of werkloosheid, ’n negatiewe doktersverslag of ’n kind sonder selfvertroue. As ons vir te lank vaskyk in die droë bene, kan ons in stuk trap om hopeloos te begin voel. God beveel ons egter om, soos Esegiël, positief te praat oor ons uitdagings. Met ons woorde skep óf vernietig ons; ons bou op óf ons breek vêrder af.
Kom ons kies vandag om verby die huidige vallei van droë bene te kyk en in geloof te begin praat oor die situasie soos God dit sien – soos dit kan wees. Nie net sal dit ons geloof in God versterk nie; ons mag dalk, net soos Esegiël (en ook die personeel van Sekondêre Skool Walmer), in absolute verstomming staan wanneer die droë bene bymekaar en God sy Heilige Gees inblaas om daardie dor, droë areas lewend te maak. Sterkte.
Vader God, dankie dat daar krag in ons woorde lê – om op te bou en te skep. Ek vra in die Naam van Jesus Christus dat U ’n wag voor my mond sal plaas en my sal help om doelbewus positiewe woorde te praat en weg te bly van negatiewe woorde. Versterk my asseblief in my geloof wanneer die droë, dor areas my wil oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na ’n foto van Nandipha Mwezo by www.benescke.co.za of die groep Stories van Hoop op die sosiale netwerk, Facebook: https://www.facebook.com/Stories-van-Hoop-118133410247/
- Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
- As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.