Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 14: Nogtans sal ek in die lig leef - 18 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Jeremy en Jason Holden, ’n tweeling uit Hollywood het onlangs besluit om aan fietsdiewe in die stad ’n les te leer. Met slim bedrading aan die fiets, ’n afstandbeheerder en ’n verskuilde kamera, het hulle die strate ingevaar. Die fiets is sonder ’n slot teen ’n lamppaal in die straat geplaas as lokaas vir diewe wat dit wou steel.

Keer op keer het iemand verbygestap, gesien dat daar nie ’n slot aan die fiets is nie, en dit gevat. Dit is egter sodra die dief met sy sitvlak op die fiets se saal gaan sit, dat die tweeling, via die afstandbeheerder, vir ’n elektriese skok gesorg het. Die reaksies was snaaks. Een van die diewe het só groot geskrik dat hy bykans in ’n boom vasgery het. 

God is Lig en daarom moet ons in elke aspek van ons lewens, streef daarna om ook in sy Lig te leef. Doen ons dit nie, klim ons ook onwetend op daardie “fiets” wat die vyand vir ons uitsit as ’n versoeking en gee ons vir hom die afstandbeheerder in sy hand om ons verder seer te maak. In Efesiërs 4:26-27 lees ons: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.” In ’n ander vertaling sê dit dat ons nie die duiwel ’n voet in die deur moet gee nie.

Hoe klim ons op die vyand se “fiets”? Ons doen dit deur byvoorbeeld nie skinderpraatjies te stop nie, maar saam te gesels; wanneer ons kies om kwaad met kwaad te vergeld, eerder as om iemand vry te spreek en te vergewe; wanneer ons ongeduldig met geliefdes raak; wanneer ons toelaat dat ons harte gevul raak met jaloesie, bedrog, kwaadpratery en wellus (Romeine 1:29-31); of wanneer ons ons integriteit prysgee, deur iets te doen wat ons weet nie in lyn met God se wil is nie.

In Spreuke 4:23 lees ons: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Die Psalmdigter het dit verstaan en daarom bid hy in Psalm 139:23-24 ’n gebed wat ons daagliks moet bid:  “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; . . . en lei my op die ewige weg!” Ook in 1 Tessalonisense 5:19, 22 en 23 lees ons: “Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. . . en bly weg van alles wat sleg is. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!”

Is daar vandag iets in jou lewe wat vir die vyand ’n voet in die deur gegee het? Beleef jy dalk tans die vyand se “elektriese skokke” in jou lewe? Kom ons spring van die fiets af, gooi dit eenkant toe en hardloop weg van enigiets wat ons van die teenwoordigheid van God skei. En kom ons vra God om ons, deur sy Heilige Gees, in staat te stel om onberispelik voor Hom te leef. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u genade elke dag. Lei my deur u Heilige Gees om die dinge in my lewe te identifiseer waarvan ek moet afsien sodat ek in u Lig kan leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

Previous article: Dag 15: Nogtans sal ek sy genade en vergifnis aanvaar - 19 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 13: Nogtans sal ek positief praat - 17 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.