Dag 15: Nogtans sal ek sy genade en vergifnis aanvaar - 19 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
Waar sy op die grond in die stof sit, stroom vars trane oor haar wange. Haar hart is gebroke. Haar hoop op ’n uitkoms uit die situasie, totaal vergete. Sy het ’n buite-egtelike verhouding gehad. En hoewel sy berou oor haar dade het, is sy skuldig en moet sy sterf.
Die afkeer en verwerping is duidelik in die Fariseërs en skrifgeleerdes wat rondom haar staan se oë te lees. Van die mans hou reeds klippe in hul hande vas. “Meneer,” hoor sy een van hulle met Jesus praat, “hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” Met ’n hart wat vinnig klop kyk Maria Magdalena grond toe. Sal Jesus die toestemming gee dat hulle die klippe mag gooi? Sy verdien dit. Sy haat wat sy gedoen het, maar dit is nou te laat. ’n Onheilspellende stilte hang vir ’n oomblik in die lug voordat Jesus praat: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi” (Joh. 8:7).
In stede van klippe wat op Maria Magdalena se kop neerreën, hoor sy hoe een na die ander van die mans die klippe op die grond neergooi voordat hulle wegstap. Wanneer hulle alleen oorbly, kyk Jesus na haar: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” Deur vars trane, fluister sy: “Niemand nie, Here . . .” Hy knik: “Ek doen dit ook nie. Gaan en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Joh. 8:11).
Min van ons was nog nooit in ’n soortgelyke situasie soos Maria Magdalena, waar ons ook skaam voel oor verkeerde besluite of ons optrede uit die verlede nie. Ons kniel voor God en smeek Hom met ’n hart vol berou vir genade en vergifnis, maar ons sukkel om te glo dat Hy ons werklik sal vergewe. Juis hierom bly ons die verlede ophaal en mis ons uit om ’n lewe in oorvloed te leef.
Die vyand wil ons in die verlede hou. God spreek ons egter vry en Hy wil ons herinner dat Hy nie weer oor ons sondes dink wanneer Hy ons vergewe het nie. In 1 Johannes 1:9 lees ons: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” InPsalm 103:12 lees ons: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” En in Jesaja 43:25 sê God self: “Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.”
Maria Magdalena se ontmoeting met Jesus Christus het haar lewe ingrypend verander. Een oomblik waarin sy genade beleef het wat sy nie verdien het nie, het veroorsaak dat sy Jesus van daardie dag af gevolg het tot sy dood aan die kruis. Sy het selfs een van die eerste mense geword om Hom na sy opstanding te sien. Kom ons herinner onsself aan wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het. Hy het die sonde op Hom geneem sodat ons vergifnis van God vir ons sondes kan ontvang. Sy genade is ook genoeg vir jou. Moenie te lank wag om dit te aanvaar nie – dit mag ons onnodig beroof van ’n lewe van vryheid en oorvloed wat Hy vir ons beplan! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u genade en vergifnis. Help my om asseblief om hierdie vergifnis aan te gryp. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
-
Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
-
As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.