Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 16: Nogtans bly my oë op U, my Voorsiener - 22 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Ter agtergrond: Oor die afgelope paar dae was daar heelwat lesers wat via hul e-posse vertel het dat hulle God tans vir ’n deurbraak of vir voorsiening vertrou. Hier is ’n uittreksel uit ’n e-pos wat my geïnspireer het, omdat die skrywer in geloof vasstaan te midde van ’n storm: “Vir die afgelope tien maande gaan dit finansieel baie swaar met ons. Daar was oomblikke waarin ek gewonder het hoe ons deur die week gaan kom, maar God het keer op keer ingegryp en vir ons voorsien. Ons het nog nie een aand honger gaan slaap nie. Ek weet vandag dat Hy die Voorsiener is en dat ons, ons lewens sonder vrees in sy hand kan plaas! Alle eer aan Hom.”

Benodig jy vandag om God se Voorsienende hand in jou lewe te beleef? Dalk kry julle ook finansieel swaar, smag jy na ’n baba van jou eie, ’n huweliksmaat, ’n beter werksgeleentheid of sommer net iets materieel soos ’n motor of huis van jou eie. Of dalk wil jou kind op ’n skooltoer gaan, maar jy weet nie hoe julle dit gaan bekostig nie? Of dalk is jou behoefte emosioneel van aard soos vertroosting van ’n gebroke hart nadat ’n verhouding nie uitgewerk het nie of smag jy na vriende, maar jy weet nie waar om te begin nie. God weet wat ons benodig nog voordat ons dit van Hom vra, maar Hy wil hê dat ons dit van Hom vra omdat Hy ’n verhouding met ons begeer.

Moet ons God vra om te voorsien?

Ja. In Jakobus 4:2b lees ons: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.” Ook in Mattheus 7:7-8 staan geskryf: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” ’n Aksie word dusbenodig om te ontvang. In Psalm 24:1 lees ons dat alles in die wêreld aan God behoort. Hy is die Bron van ons voorsiening en daarom mag ons met vrymoedigheid met Hom oor ons behoeftes gesels.

Wat moet ons doen as ons klaar vir God gesê het wat ons benodig?

In Filippense 4:6-7 lees ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” En in Markus 11:24 sê Jesus: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Ons kan dus, nadat ons vir God gesê het wat ons benodig, solank in geloof begin dankie sê met die wete dat die deurbraak op pad is (Heb. 11:1).  

Soms kry ons presies waarvoor ons gebid het. Ander kere kry ons iets heeltemal anders. Wat ons egter moet onthou, is dat God die toekoms ken. Hy is in staat om veel meer te doen as wat ons kan bid of dink (Ef. 3:20-21), maar Hy weet of dit waarvoor ons bid vir ons gaan goed wees of nie. Wanneer ’n deurbraak dus langer neem as wat ons wil hê dit moet of in ’n ander vorm kom, kan ons weet dat Hy ons heel moontlik beskerm of vir ons iets beter gee as wat ons gevra het.

Kom ons begin om God vandag by voorbaat te dank vir wie Hy is en hoe Hy kan voorsien. Só demonstreer ons ons geloof in Hom. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U voorsien. Help my vandag om nie paniekerig te raak as dit voel asof ek met my rug teen die muur staan nie. Help my ook om te onthou dat U buite tyd en ruimte werk soos wat ons dit ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

Previous article: Dag 17: Nogtans sal ek my lig vir Hom in die werkplek skyn - 23 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 15: Nogtans sal ek sy genade en vergifnis aanvaar - 19 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.