Dag 17: Nogtans sal ek my lig vir Hom in die werkplek skyn - 23 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
Een van die mees algemene onderwerpe wat uit lesers se e-posse na vore kom, is uitdagings in die werkplek. Hoe bly ’n mens positief en skyn jy God se lig in tye van onregverdige aflegging, ’n dissiplinêre verhoor teen jou of wanneer jy sukkel om werk te kry (al het jy reeds ’n klomp CV’s uitgestuur)? Ook, hoe hou jy aan om ’n ambassadeur in God in ’n werksomgewing te wees wanneer dit gevul is met skinderpraatjies, moeilike kollegas of selfs wanneer jy die enigste gelowige in die werkplek is en soms spot daarvoor moet verduur?
Hier is drie wenke uit God se Woord:
1) VRA GOD VIR WYSHEID EN LEIDING:
Ons almal moet daagliks ’n klomp besluite in die werkplek neem. Hoeveel makliker sal dit nie wees as ons God vir wysheid daarvoor vra nie? In Jakobus 1:5staan geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee ... ” In Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” En in Jesaja 30:21 vind ons die belofte: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” God wil ons nie net beskerm en bewaar van verkeerde besluite nie; Hy wil ons ook lei en help om op die regte pad te bly.
2) TREE OP MET INTEGRITEIT
In Hebreërs 4:13 lees ons: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.” Ook in Deuteronomium 25:15-16 staan geskryf: “. . . die Here haat dit wanneer mense oneerlik is.” Wanneer ons dus begin leef met ’n bewustheid dat God elke besluit en aksie van ons ken, word dit makliker om te streef daarna om te alle tye met integriteit op te tree sodat Hy daardeur verheerlik kan word.
3) ONTHOU VIR WIE JY WERK:
In Efesiërs 6:6 lees ons: “Julle moenie net werk wanneer julle eienaars vir julle kyk nie, julle moenie werk sodat mense van julle kan hou nie ... Nee, dit moet vir julle wees soos wanneer julle vir die Here self werk, nie soos wanneer julle vir mense werk nie.” Ook in Kolossense 3:23: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie . . .” God is ons Werkgewer en al voel dit soms asof niemand ons toewyding raaksien nie, kan ons weet dat Hy alles sien en op die regte tyd sal sorg vir ’n bevordering.
Aksies praat baie harder in die werkplek as wat ons woorde ooit sal kan. Al rep ons dus nooit ’n woord oor ons geloof nie, is die kanse goed dat ons kollegas reeds weet dat ons onsself Christene noem. Ons optrede sal egter daardie ongelowige of louwarm kollegas óf inspireer om God beter te wil leer ken, óf hulle totaal daarvan afsit om ooit ’n Bybel oop te maak. Kom ons nooi die Heilig Gees daagliks in ons lewens in en vra Hom om ons te help om aan te hou om God se lig te skyn, hoop te bring en mense rondom ons te inspireer deurdat ons Hom eerste stel. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek ’n werk kan hê. Lei my asseblief om deurentyd met wysheid en integriteit op te tree terwyl ek myself herinner dat ek vir U en nie vir mense werk nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
- As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.