Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 18: Nogtans sal ek hoop behou - 24 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Het jy jouself al ooit in ’n situasie bevind waar dit gevoel het of die mat onder jou uitgeruk is? Jy kyk na jouself in die spieël en vind dit moeilik om te glo dat dit werklik jou lewe is. Dalk het jou krisis ’n gestremdheid, ’n egskeiding, ’n siektetoestand, ’n amputasie, ’n buite-egtelike verhouding, sekwestrasie, mishandeling, ’n verslawing of selfs net ’n teleurstelling in iemand wat jy werklik vertrou het, ingesluit. Sulke situasies laat ’n mens plat teen die grond – gestroop van hoop. Tog, moet ons onthou dat daar altyd hoop is.

’n Pienk sjibazakoera-blom is wat die verskil vir ’n Japanese paartjie in Sjintomi, Japan gemaak het. Toshiyuki en sy vrou, YasukoKuroki is in 1956 getroud. Hierna het hulle hard gewerk as melkboere en saam met hul twee kinders ’n gelukkige lewe gebou. Die egpaar se droom was om ná hul aftrede saam deur Japan te reis.

Op 52-jarige ouderdom het Yasuko egter binne ’n week se tyd, weens komplikasies met haar diabetes, haar sig verloor. Buiten vir die fisiese uitdagings, het die blindheid haar van haar lewenslus beroof en in ’n diep depressie laat verval. Al haar man se pogings om haar op te beur was telkens onsuksesvol, maar hy het egter nie moed opgegee nie.

Op ’n dag ontdek Toshiyuki die pienk sjibazakoera-blom. Vir die volgende twee jaar, het hy derduisende van dié blomme in hul tuin rondom die huis geplant. Met die aanbreek van lente was hulle tuin nie net helderkleurig en mooi nie, maar ’n heerlike geur het in die lug gehang. Gou het toeriste begin om die Kuroki’s se plaas te besoek. Vandag ’n dekade later, stroom bykans 7,000 besoekers per dag in die lente na die Kuroki’s se plaas. En om alles te kroon het Yasuko weer ’n glimlag op haar gesig!

Yasuko se blindheid, het die Kuroki’s voor ’n keuse geplaas: Hulle kon óf gaan lê het en alles en almal rondom hul verwyt vir wat gebeur het óf hulle kon hul “nuwe normaal” aangryp en die beste daarvan maak. Hulle het laasgenoemde gekies en daarby beleef hoe besoekers nie net die tuin geniet nie, , maar ook geïnspireer word deur ’n storie van hoop deursettingsvermoë en onvoorwaardelike liefde. (Kyk na die blomme hier: http://youtu.be/fV5yQbw4KJI)

In Genesis lees ons dat Josef se broers, wat hom eens weens jaloesie in ’n put gegooi het en later aan die Egiptenare verkoop het, voor hom in Egipte buig om kos in ’n hongersnoodtyd te koop. Aanvanklik herken hulle hom nie. Wanneer hulle egter uitvind wie hy is, vrees hulle vir hul lewens. In Genesis 50:20 sê Josef egter: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.” Hy het besef dat God alles ten goede kan laat meewerk vir dié wat hom lief het (Romeine 8:28). Ook in Psalm 37:5 lees ons: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”  

’n Besigheid wat sy deure moes sluit, is nie die einde van ’n besigheidsloopbaan nie; dit is dalk net die begin van ’n veel beter een omdat belangrike lesse geleer is. Jou egskeiding voel dalk vir jou soos die einde van die wêreld, maar is God dan nie in staat om aan jou ’n tweede kans op geluk te gee nie? En jou gestremde kind waaroor julle aanvanklik so gehuil het, mag dalk in retrospek vir julle die grootste seëning wees omdat hy of sy julle daagliks van God se teenwoordigheid en genade bewus maak. Kom ons hou ons oë op Hom en vind ons hoop in Hom, want maak nie saak hoe donker ’n situasie lyk nie, daar is altyd hoop in Hom! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U in staat is om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat U lief het. Help my asseblief om nooit hoop te verloor in skynbaar hopelose situasies nie, maar om eerder te soek na die unieke lesse wat ek hieruit kan leer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk hier na die blomme: http://www.dailymail.co.uk/news/article-3453325/The-romantic-flower-garden-world-Husband-plants-thousands-pink-blooms-people-come-spend-time-blind-wife-didn-t-feel-lonely.html
  • Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Previous article: Dag 19: Nogtans sal ek U prys - 25 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 17: Nogtans sal ek my lig vir Hom in die werkplek skyn - 23 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.