Dag 19: Nogtans sal ek U prys - 25 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Ter agtergrond: Met rukkende skouers en trane wat oor haar wange stroom, het Celeste Nurse vroeër die week in die Wes-Kaapse hooggeregshof aan regter John Hlope vertel van die oomblik toe sy, 19 jaar gelede, in die Groote Schuur-hospitaal, besef het dat haar drie-dae oue dogtertjie ontvoer is. Zephany is later “teruggevind” nadat haar biologiese suster, wat vier jaar jonger as sy is, vir haar ouers gesê het dat ’n matriekmeisie by haar skool net soos sy en haar ouers lyk. DNS-toetse is gedoen wat bevestig het dat dit hulle vermiste kind is. Die saak duur voort.]
Bogenoemde storie het my geruk en my hart met empatie gevul. Tog is ek seker daar is ’n paar mense wat na die storie kyk en dadelik vra: “Maar waar was God? Hoekom het Hy dit toegelaat? Is Hy dan nie ’n God van liefde nie?” Die vrae laat my aan die volgende storie dink:
’n Gelowige boer het een perd besit waarmee hy ’n groot klomp werk op sy plaas gedoen het. Op ’n stormagtige aand met brullende weerlig, ruk die perd los en hardloop weg. Toe die gelowige boer se ongelowige buurman dit hoor, sê hy: “Dit is nou slegte nuus. Ek wonder, waar was jou God? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie?” Die gelowige boer het kalm geantwoord: “Sleg of nie. Dit het nou gebeur, , maar ek weet my God bly in beheer.”
’n Paar dae later, tot almal se verbasing het die vermiste perd na die boer se plaas teruggekeer waar hy gewoond was om kos en water te kry – die keer het ’n groot trop wilde perde hom uit die berg gevolg. Die boer het die kamp agter die perde toegemaak en oornag ’n trop perde bygekry. Die ongelowige boer het dit gesien en gesê: “Sjoe, dit is nou blote geluk.” Die gelowige boer het geantwoord: “Goed of sleg. Ek weet my God bly in beheer.”
Kort hierna besluit die gelowige boer se seun om een van die wilde perde in te breek. Hy het op die perd geklim, maar sy voet het gegly en in die val het hy sy been gebreek. Toe die ongelowige boer daarvan hoor het hy gesê: “Dit is nou slegte nuus. Ek wonder, waar is jou God? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie?” Die gelowige boer het geantwoord: “Goed of sleg. Dit het nou gebeur. Ek weet my God bly in beheer.”
’n Paar dae later het gewelddadige, gewapende huursoldate aan die gelowige boer se deur geklop. Hulle het vereis dat hy sy seun saam met hulle moes stuur. Toe die huursoldate egter sien dat die seun se been in gips is, het hulle gesê: “Ag nee wat, hierdie seun sal vir ons niks beteken nie.” Hulle het omgedraai en weggestap. Stil het die gelowige boer sy oë gesluit en God vir sy beskerming geprys.
In Jesaja 55:8-9 lees ons: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” Lasarus moes eers sterf, sodat God se Naam verheerlik kon word toe Jesus hom uit die dood opgewek het (Johannes 11). Net so, is die blinde man blind gebore, nie weens sy ouers se sonde nie, maar sodat God se Naam verheerlik kon word toe Jesus hom genees (Johannes 9).
Soms gebeur dinge wat ons nie kan verduidelik nie. Wat ons wel kan weet, is dat God in beheer bly en dat Hy nooit enigiets sal toelaat wat ons nie kan hanteer nie. Kom ons kies om God in goeie en slegte tye nogtans te prys. Ons mag dalk, soos die gelowige boer, verstom staan by die besef aan hoe naby Hy aan ons was in die tye toe dit gevoel het of Hy sy rug op ons gekeer het. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U die toekoms ken. Help my asseblief om in goeie en slegte tye te weet dat U die laaste sê het en dat U my toekoms ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto van Celeste Nurse, Zephany se man hier: www.benescke.co.za of hier: https://www.facebook.com/Stories-van-Hoop-118133410247/
- Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.