Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 2 Desember

ʼn Brandstapel van nietighede

Hennie Symington

Skriflesing

Baie van die mense wat voorheen *getoor het, het hulle *boekrolle gebring en hulle het dit verbrand waar al die mense dit kon sien. Die mense het getel hoeveel al die boeke gekos het, en dit was 50 000 *silwer geldstukke. Omdat hierdie dinge gebeur het, het meer en meer mense die boodskap van die Here gehoor en dit geglo. Han. 19: 19-20 (Bybel vir almal)

Nie baie mense weet wie Savanarola was nie. Hy was ʼn intelligente jong priester met ʼn baie sterk gevoel vir wat reg en verkeerd is wat gedurende die vyftiende eeu in Italië gewoon het. Hy het met oordrewe ywer gepreek teen die sondes van sy tyd en die vergrype van die pous en ander kerklui. Hy het selfs sover gegaan om die kerk as ʼn prostituut uit te kryt.

Hy het ʼn groot aanhang onder die gewone mense gehad, maar die adel en die kerklui wou hom kruisig. Op ʼn dag het hy die mense van Venesië uitgedaag om alles wat hulle tot sonde verlei op ʼn brandstapel te verbrand. En wat ʼn groot vuur was dit nie: vieslike boeke en prente, dobbeltafels, skilderye van ʼn twyfelagtige aard – trouens enigiets wat as verleiding beskou kon word, het in rook opgegaan. Ongelukkig het almal so sat vir die arme priester geraak dat hy ook op die ou ent op die brandstapel verbrand is.

Paulus se brandstapel

In Handelinge 19 lees ons ook van ʼn brandstapel waar nietighede en ydelheid in vlamme opgegaan het. Toe ʼn klomp towenaars in Efese sien hoe kragtig Paulus werk om mense tot bekering te bring het hulle al hulle toorboeke – ons lees ter waarde van 50 000 silwerstukke in total – gebring om te verbrand.

Soms voel ʼn mens ook lus om ʼn brandstapel aan die gang te kry as ʼn mens kyk na van die dinge waarmee gelowiges vandag mee gekonfronteer word. Oral is daar boeke, flieks, tydskrifte, e-posse, musiekvideo’s, webwerwe, straatplakkate, dwelms en drank wat die mens van sy moraliteit beroof en kinders se onskuld steel. As dit moet gebeur sal dit verseker die moeder van all vreugdevure wees.

Maak jou eie brandstapeltjie

Natuurlik kan ʼn mens nie in vandag se tye loop en goed verbrand nie. Bou jy dus maar hierdie kersgety vir jou ʼn brandstapeltjie in jou binneste waar jy jou weerhou van sekere dinge wat jy weet ʼn vuurtjie van begeerte in jou of ander se harte gaan aansteek. So word jy nie maar net deel van die stroom van die tyd nie, maar staan jy as ʼn baken van lig vir ander wat ook sat is van ligsinnigheid.

Gebed:

Gees van God, Kom verlos ons met u heilige vuur van die dit wat ons soos ʼn mot om ʼn kers laat draai.

Previous article: Vers n dag - 3 Desember Prev Next article: Vers n dag - 1 Desember Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.