Vers n dag - 6 Desember
“Happy Birthday to me!â€
Hennie Symington
Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is. Ps. 104:33
Die uwe (dis nou ek) verjaar vandag (Ouderdom: onbelangrik). Vandag word julle almal uitgenooi om julle diëte oorboord te gooi en saam met my nog ʼn jaar te vier. Ja, ek is oor ʼn verjaarsdag soos ʼn baba oor ʼn fopspeen, ʼn hond oor ʼn bal of ʼn kat oor muisvleis.
En raai wat! Aangesien julle nou nie vir my geskenke kan gee nie, gaan ek vir julle een gee: ʼn resep vir geluk.
Eerstens, leef elke dag op opnuut soos wat jy uit God se stoor gekom het: sonder haat, sonder jaloesie of bitterheid van gister. Leef een dag op ʼn slag, vul dit met twaalf dele geloof, elf dele geduld, tien dele moed, nege dele werk, agt dele hoop, sewe dele getrouheid, ses dele vrygewigheid, vyf dele vriendelikheid, en vier dele rus (dis soos sout op die slaai), drie dele gebed, twee knippies nadenke, en een deeltjie vasberadenheid. Voeg by ʼn knippie geestigheid, ʼn skeutjie pret, ʼn halwe knippie lawwigheid en ʼn opgehoopte koppie humor. Bak heeldag by ʼn gesellige temperatuur, versier met ʼn glimlag en vrolikheid en siedaar! ʼn Gelukkige dag.
Net ʼn klein waarskuwinkie! As ander jou verjaarsdag onthou, maar jy hulle sʼn vergeet, het jy die resep verkeerd. Dit vat so min van jou om ʼn verjaarsdagkalender langs die telefoon (of op jou selfoon) te hou en iemand se dag te maak deur hulle geluk te wens.
Gebed
Dankie Heer vir soveel blye dae en dat u ons deur baie jare van vreugde en pyn steeds op u hande dra.