Vers n dag - 7 Desember
Wyses met ʼn visie
Hennie Symington
Skrifgedeelte
“Waar is die koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.†Mt 2:2
Die wyse manne – ons weet nie of hulle konings of sterrewiggelaars of sterrekundiges was nie – het ʼn manjifieke verskynsel gesien: ʼn buitengewoon helder en ongewone ster. Hulle het gaan navorsing doen en in die pad geval op soek na hierdie verskynsel, amper soos Abraham van ouds.
Baie geslagte tevore het Abraham sy geboorteland agtergelaat en die onbekende ingevaar agter ʼn stem aan – die stem van ʼn onsigbare God wat hom geroep het om vir hom ʼn volk in die onbekende te wees. Net so het die wyse manne ʼn visie gehad wat hulle na Betlehem gelei het.
Iemand het eenkeer grappenderwys gesê die wyse manne het meer kilometers afgelê op kerskaartjies as wat hulle ooit gery het om in Betlehem te kom. Dit was nogtans ʼn lang en moeisame reis van nagenoeg 2500 kilometer waar daar nie orals paaie was nie. Maar dit het hulle nie afgeskrik nie van hulle het ʼn visie gehad. Waar daar visie is gaan mense vooruit. Abraham het dit bewys en die wyse manne het dit bevestig.
Wat is jou visie in die lewe?
Dalk het jy ʼn visie maar doen niks om dit waar te maak nie. Volg die wyse manne se voorbeeld. Hulle het ʼn ster gevolg en God ontdek.
Gebed
Here, die werklikheid kry my soms onder. Gee my ʼn visie in my hart en die wysheid om die ster wat lewe gee te volg.