Die hemel is waar God is - 14 April 2016
Hennie Symington
Ons Vader wat in die hemel is … Matteus 6:9
Waar is die hemel? Ons verbeel ons dikwels dat die hemel “daarbo êrens” is en wys graag met die vinger boontoe om dit te beaam. (Wie is ons nou om met die rugbyspelers en ander sportmanne te stry as hulle na ʼn drie boontoe wys!)
Wanneer ons egter na ons Vader in die hemel verwys, beteken dit nie dat ons God verban het na die verste uithoeke van die heelal nie; ons bevestig sy teenwoordigheid tussen ons, by ons, in ons wêreld, ons lewens, en in ons harte.
Jesus het dikwels van die koninkryk van God gepraat as hier by ons en nie as ʼn abstrakte plek ver van ons nie. Die hemel is waar God is. Waar sy liefde en vrede regeer en waar liefde en goedheid en genade gedy, daar proe ons ʼn stukkie hemel op aarde.
Dit beteken egter nie dat God slegs teenwoordig is waar vreugde en geluk heers nie; God is aktief teenwoordig in ons donkerste ure, waar Hy ons ondersteun en verander, en ons lewe en vrede gee. Jesus beskryf die koms van die koninkryk van God nie as iets wat “uit voortekens bereken (kan) word nie … want die koninkryk van God is hier by julle.”Lukas 17:20b,21
Gebed: Here, u konstante teenwoordigheid is my troos en vreugde, selfs in moeilike tye en tye van eensaamheid en verlies. Dankie dat U die koninkryk naby aan u kinders op aarde gebring het. Amen