Vers n dag - 10 Januarie
Vrede met God bring die vrede van God
Hennie Symington
Skrifgedeelte
Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
My tye is in u hand. Ps 31:15-16a
Die nuwe jaar is skaars 10 dae oud en ek verstout my om te sê dat die poppe al klaar begin dans het en die “spanner †sommer al vroeg in die nuwe jaar in die “works†beland het.
Voor die jaar dus te ver aanstap, staan stil en kyk terug oor die oor die jaar wat verby is. Vra jou af wat het van verlede jaar se goeie voornemens geword? Hoeveel van jou plannetjies het uitgewerk soos jy beplan het? Hoeveel verhoudings het skipbreuk gely? Hoeveel beloftes het jy gebreek en hoeveel wrakke staan daar langs Roete 2010? As jy oor niks spyt is nie, klop jouself op die skouer. Maar as dit oor die algemeen maar ʼn woeste jaar was met baie teleurstellings en min suksesse, is dit dalk tyd vir selfondersoek.
Miskien is dit omdat ons graag sekere sake vir in die lewe van God af weghou dat ons so neerslagtig is oor die jaar wat verby is. Ons sê mos graag, my werk, my huwelik en my kerk dra ek aan God op, maar my geldsake of my verhouding met mense van ander kulture en kleure is my saak. Of ek behandel mense met respek maar hoe ek my gesin behandel is nie ter sake nie. Ag, elkeen van ons kan sy eie lysie maak.
Dis tog eienaardig dat ons as gelowiges sê dat ons glo dat God ons lewens in sy hand hou maar nie eens die moeite doen om ons planne vir die jaar met Hom te bespreek nie. Dus, voor jy ʼn tree verder op Roete 2011 gee, staan stil – al is dit net vir ʼn oomblik – en dink wat verlede jaar verkeerd gegaan het en wat jy gaan doen om vanjaar koers te hou saam met God.
Onthou, vrede met God bring die vrede van God in jou lewe. Dit is die vrede wat alle verstand te bowe gaan , ons gedagtes vul, ons gees oorspoel en ons die versekering gee dat alles onder beheer is.
Gebed
O God, wat my begin, my voortsetting en my voleinding is, reis saam met my langs Roete 2011. Wees U self die lig op my pad.