Die Heilige Gees as Outeur - 22 Junie 2016
Louise Gevers
Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. 2 Petrus 1:20-21
Gister het ons daarop gefokus hoe die Heilige Gees Jesus se dissipels, van toe en nou, herinner aan sy leringe en van die waarheid van die Skrif. Vandag kyk ons na die realiteit dat Hy die Bron en die Inspirasie is en dat elke skrywer in die uitvoer van sy taak deur die Heilige Gees gedra word. Hierin lê die krag van die Bybel, die woord van God, wat op elke vlak van ons menswees tot hart en verstand spreek en daarom anders is as enige ander boek wat nog ooit geskryf is. Paulus skryf: "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk." (2 Timotheus 3:16-17) Dit Bybel is tot boordens toe vol teologie, geskiedenis, profesie, gedigte en verhale, en die belangrikste die weg tot verlossing deur Jesus Christus.
Ander noemenswaardige persone het ook die belangrikheid van die Bybel en sy effek op die wêreld erken. George Washington, die eerste president van die Verenigde State van Amerika, het gesê: Dit is onmoontlik om die wêreld sonder God en die Bybel behoorlik te regeer." Horace Greeley, redakteur van die New York Tribune, het gesê: "Dit is onmoontlik om mense wat die Bybel lees op geestelike of sosiale vlak te onderwerp. Die beginsels van die Bybel is die grondslag van menslike vryheid." Immanuel Kant, die Duitse filosoof, het gesê: "Ek glo dat die bestaan van die Bybel die grootste voordeel vir die mensdom inhou. Enige poging om dit af te kraakg … is 'n misdaad teen die mensdom." Groot woorde van groot persoonlikhede.
Wanneer die Heilige Gees 'n individu of groep inspireer, toon Hy die regte begrip vir die behoefte in die gegewe situasie. Hy maak nie net 'n behulpsame voorstel wat miskien sal werk of nie, maar aangesien Hy die Woord volkome ken, is Hy daartoe in staat om die waarheid direk tot die hart en verstand van 'n persoon te spreek, nie as 'n mens wat behulpsaam wil wees nie, maar as God met volmaakte kennis.
Ons kan dus nou met ons geloofsoog die potensiaal hierin sien, terwyl ander in die geskiedenis reeds hieruit voordeel getrek het. Paulus verwys na die effek wat die Skrif op sy jong medewerker, Timoteus, gehad het. Hy skryf: "Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. … " (Filippense 2:20-22)
Aan Timoteus skryf hy: "Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. (2 Timoteus 3:14-15)
Dit is ook waar vir ons.
Gebed: Vader, u Woord is waarlik 'n wonderlike geskenk! Deur u Woord voorsien U in elke behoefte in hierdie wêreld en wys U vir ons deur Jesus Christus die weg na die ewige lewe. Help my om deur alles wat ek al in die Skrif geleer het van u liefde te getuig en laat ek nooit moeg word om selfs meer te leer nie.Ek bid dit in u Naam. Amen