Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 17 Januarie

“Wat doen julle meer as die ander?”

Hennie Symington

Skriflesing

“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

Luk 6:32-36

Wat maak jou anders?

Jesus se vraag aan sy dissipels tweeduisend jaar gelede is steeds ʼn brandende vraag vir moderne gelowiges. As Christene behoort ons so ʼn besondere houding teenoor die lewe te weerspieël dat dit ons onderskei van die res van die gemeenskap. In ons gedagtes behoort ons pal Jesus se vraag aan sy dissipels in ons ore te hoor: Wat maak jou anders?

Die meeste van ons kom waarskynlik nie gereeld te staan voor ingrypende etiese kwessies soos die toepassing van reg en geregtigheid, besluite oor die berging van radioaktiewe afval, of besluite oor lewe en dood nie.Ons kom egter gedurig te staan voor etiese kwessies in die kleine soos: Is ek ʼn man of vrou van my woord? Hoe tree ek op by die werk of by die kantoorpartytjies? Hoe behandel ek my huishulp, die bedelaar langs die pad en ander hulpbehoewendes? Waaraan bestee ek my geld? Wat leer ek my kinders oor eerlikheid, betroubaarheid en regverdigheid? Hoe tree ek op teenoor my bejaarde ouers, sowel as die vreemdeling in my poorte? Strook my dit wat ek sê ek glo met dit wat ek uitleef? Wat doen ek anders as al die ander?

Hoe lyk jou geestelike etiket en goeie maniere?

Eeue gelede het die Heilige Fransiskus van Assisi iets hiervan begryp toe hy die hande en gesig van ʼn bedelaar gesoen het terwyl hy ʼn muntstuk in sy hande plaas. Hy het nie net vir die melaatses kos gegee nie, maar ook hulle sere verbind.

Om as Christen anders te wees beteken om maniere te vind om jou siel te deel met die wêreld.

Gebed

Here, ek verbeel my ek is anders, maar eintlik lyk ek net soos die ander – vol van myself en leeg aan genade en liefde. Maak my heilig Here, sodat ek iets van U liefde en omgee kan uitdeel aan ʼn wêreld vol nood. Amen.

Previous article: Vers n dag - 18 Januarie Prev Next article: Vers n dag - 14 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.