Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (2) - 4 Julie 2016
Om jou pad te kan vind in hierdie wêreld is dit noodsaaklik om jou oë op Jesus gevestig te hou.
Bemeester die kuns om die regte besluite te neem. Ongeag van waar jy jou op jou reistog mag bevind, gaan jy morele besluite teëkom. Jy gaan gekonfronteer word met uiteenlopende menings en lewenstyle. Party situasies gaan ʼn duidelike reg en verkeerd hê, maar dié wat jou geloof die meeste op die proef stel, is nie altyd so duidelik nie. Om jou oë op Jesus gevestig te hou, sal jou help om jou pad te vind in hierdie wêreld.
Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. Psalm 1:1-3
In Spreuke 16:3 lees ons "Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk."
Selfs wanneer jy bang is, is die antwoord om jou oë op Jesus gevestig te hou. Dit is opwindend om die lewe te ervaar en jou vryheid asook die geleenthede vir persoonlike groei te geniet. Alhoewel dit ʼn goeie ding is, kan jou vrese om nie goed genoeg te wees nie, nie jou doelwitte te bereik nie, om by ʼn nuwe omgewing aan te pas of vir verwerping spanning by party mense veroorsaak. God verstaan jou onsekerheid en wil jou deur middel van die Bybel gerusstel.
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. Jesaja 41:10
Om jou pad te vind in hierdie wêreld hou jou oë op Jesus gevestig en vertrou op God se goedheid. Lees gerus Psalm 36:5-9. "… In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid."
Gebed: Vader, deur u Gees help my om my oë op u Seun gerig te hou om my pad in hierdie wêreld te kan vind. Dankie vir u liefde en genade. Amen.