Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 18 Januarie

Wat is ons anders as die heidene?

Hennie Symington

Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. 1 Pet 2:12

Heidene onder ons?

Bestaan daar nog so iets soos ʼn heiden? Almal dwarsdeur die wêreld het tog seker al van God gehoor? Maar wat is  ʼn heiden? Dis iemand wat in geen God glo nie en glo dat godsdiens ʼn uitgediende oorblyfsel van die donker eeue is en dat verligte, mondige mense daarsonder kan klaarkom. Daar is ook ander soorte heidene: die wat van die natuur ʼn afgod maak en glo dat die natuur oor bonatuurlike magte beskik. Daar is selfs moderne heidene onder ons wat hulle deur allerhande bygeloof laat lei.

En as iemand jou ʼn heiden sou noem?

“Wie, ek?” sou jou verbaasde antwoord waarskynlik wees. Tog tree ons soms soos heidene op wanneer ons die lotto speel en glo dat die “geluksgodin” ons genadig sal wees met ʼn meevallertjie. Ons dra hangertjies met godsdienstige spreuke om ons nek om ons teen die bose te bewaar in plaas daarvan om God se wil te doen. Of ons bestudeer die sterre voorspel sodat ons kan voorbereid wees as die spreekwoordelike “lang donker vreemdeling” by die deur opdaag en die skip vol geld in die hawe aankom. Ons sweer by die sterretekens, vermy swart katte oor ons pad en hou nie van Vrydag die 13e nie. Ons bid dat die verkeerslig op die regte tyd moet oorslaan en ʼn parkeerplek skielik sy verskyning langs ons moet maak. Sommiges gaan selfs verder: hulle gaan sien fortuinvertellers, dodebesweerders of waarsêers om sogenaamde bindings met die bose te verbreek.

Die Bo-natuurlike onder ons

Dit alles terwyl die Bo-aardse - God wat mens geword het – tussen ons wandel in die vorm van Heilige Gees. Hy is by ons - nie om towerspreuke te spreek en bonatuurlike toertjies uit te haal nie. Hy werk onder ons om iets van sy grootheid sigbaar te maak in klein wonderwerkies wat daagliks op ons lewenspad gebeur. Hy vervang harde harte met harte van vlees, haat met liefde, en plant verdraagsaamheid in die plek van afguns en jaloesie. Daarby tree Hy vir ons in in gebed. As dit nie wonderwerke is nie, dan wonder ek wat ʼn wonderwerk is.

Gebed

Ons Vader wat in die Hemel, laat U naam geheilig word en verlos my van die bose. Amen

Previous article: Vers n dag - 19 Januarie Prev Next article: Vers n dag - 17 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.