Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (3) - 5 Julie 2016
Om jou pad te vind in hierdie wêreld hou jou oë op Jesus gevestig en hou by jou standaarde. Die volgende paar dae gaan ons kyk na raad om te volg om te verhoed dat ons moed verloor in moeilike omstandighede.
Kry jou daaglikse “Woord”. Begin elke dag met die Woord van God en bly deur daaglikse gebed gereeld in aanraking met Hom. Dit is die enigste manier om jou prioriteite in lyn te hou met dit waarin jy glo.
Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie. Psalm 119:133
Ek voel weer veilig, o God,ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing, ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Onder die volke wil ek U loof, Here,onder die nasies u lof besing, want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke. Psalm 108:1-5
Staan op vir dit waarin jy glo. Daar is ʼn spreekwoord: “As jy nie van my beginsels hou nie, het ek ander!” Natuurlik verander die manier wat ʼn mens oor dinge dink met tyd, maar daar is sekere oortuigings wat onveranderd bly, of jy nou jonk of oud is.
Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. Psalm 119:9-11
Laat jou woorde jou getuie wees. Moenie bang wees om standpunt in te neem as iemand jou geloof afbreek of verkleineer nie. Terselfdertyd moet ʼn mens ook sensitief wees teenoor mense wie se geloof van joune verskil.
Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord. Kolossense 4:5-6
Gebed: Here, gee dat ons elke dag uit u woord sal leer hoe om op die regte pad te bly en help ons om op te staan vir dit waarins ons glo. Amen