Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (5) - 7 Julie 2016
Kom elke dag met God in aanraking en kry wysheid vir die lewenspad. Dit is die enigste manier om jou lewe te prioritiseer en jou Christelike identiteit te integreer en dit so te hou. Vernuwe jou gees daagliks met God se Woord terwyl jy deurentyd met Hom in gebed kommunikeer.
Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. Psalm 5:2-3
Bou verhoudings met ander kinders van God. God se Koninkryk is een groot gesin waar ons almal mekaar aanvul en nodig het. Indien jy nie betrokke is nie, raak betrokke by jou gemeente of sluit gerus by ʼn kerk aan. Om saam met ander Christene te aanbid, help om jou sterk te hou. Deur minstens een keer ʼn week kerk toe te gaan, behou jy jou fokus.
Hef julle hande in gebed op na die heiligdom en prys die Here! Psalm 134:2
Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag. Psalm 100
Indien jy nog jonk is, bly betrokke by die ouer generasie. Hulle mag dalk “oud” wees, maar “wysheid kom met die grysheid”. Hulle het al die lewenspaadjie gestap en het al heelwat meer lesse as jy geleer. Besef dat hulle lief is vir jou en net die beste vir jou wil hê. Jy gaan buitendien hulle hulp en raad vir die res van jou lewe nodig hê.
My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf, want dit sal vir jou ’n lang lewe verseker, dit sal maak dat jy ’n vol lewe het. Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit ’n deel van jou lewe. So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens. Spreuke 3:1-4
Kom ons wees dankbaar vir ouers en grootouers by wie ons wysheid vir die lewenspad kan kry. In Spreuke 4:4 lees ons: “Wat ek jou sê, moet jy vashou, my voorskrifte moet jy uitvoer, sodat jy werklik kan lewe."
Gebed: Hemelse Vader,dankie dat ons elke dag deur u woord en deur gebed met U in aanraking kan kom. Dankie dat ons as u kinders mekaar op die lewenspad kan versterk. Amen