Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (6) - 8 Julie 2016
Het jy al gedink oor wat jou visie en waardes is? Dit is belangrik vir jou lewenspad dat jy weet wat jou waardes is en waar dit vandaan kom.
As ons soos Jesus wil wees, soos Hy ons aanmoedig om te wees, sal ons waardes weerspieël word deur ons lewenswyse. As gelowiges is ons waardes tog nie net ʼn lys van moets en moenies nie, maar ʼn strewe om soos Christus se wees in alles wat ons doen.
Is Christus waarlik vir jou 'n rolmodel, 'n prototipe? Waarin jy ook al glo en wie ook al jy volg, gaan jou oortuigings, waardes en optrede vorm. Ons waardes word direk in verband gebring met ons gehoorsaamheid aan Jesus Christus. Ons moet gevorm word na Christus se gelykenis en nie na die van vriende, kollegas, kultuur of selfs ouers nie.
“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos ’n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het.” Lukas 6:46-48a
“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” Johannes 15:5
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Romeine 12:2
Is die waarheid belangrik? As Christus waarheid is, is dit vanselfsprekend dat leuens en oneerlikheid jou van Hom skei. Om eerlik te wees, is om in Jesus se voetstappe te volg, want Hy kan nie jok nie. Deur te leer hoe om eerlik te wees, sal jy ook ʼn skoon gewete kan handhaaf.
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” Johannes 14:6a
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.” Lukas 16:10
Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir my die volmaakte rolmodel is en dankie dat ek deur u Heilige Gees daarna kan streef om in alles wat ek doen in u voetstappe te volg. Amen