Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (8) - 12 Julie 2016
Die uitdrukking "wow" het ook al in Afrikaans ingekruip, want dit is so 'n lekker sêding om te probeer uitdrukking gee aan iets wat jou in ekstase het of wanneer jy baie opgewonde is. Dit is net soveel lekkerder om te sê: "Die lewe is wow", eerder as "Sjoe, die lewe is lekker of suksesvol."
Is die lewe vir jou wow? Die lewe is kort, so maak die meeste daarvan deur herinneringe te skep waaraan jy eendag sonder spyt kan terugdink. Vermy die scenario van die verlore seun. Oorgretig om van die huis af weg te kom, bevind hy hom toe in ʼn ander soort gebondenheid en maak lelik droog.
“Daar was ’n man wat twee seuns gehad het. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel. “Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ’n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe.” Lukas 15:11b-13
Indien jy nog jonk is, is hierdie gedeelte uit Prediker 11:9-10 spesiaal vir jou.
Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen. Ook die jeug en die jonkheid kom tot niks. Prediker 11:9-10
Wat beteken dit om te sê jy is 'n wow Christen? Dit beteken wat jy doen en sê, moet in verband gebring word met dit wat jy glo. Wanneer ons soos Christus word, is die waardes waarin ons glo meer as ʼn lysie moets en moenies. Dit is om soos Christus te wees in alles wat ons doen.
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. Kolossense 3:12-14
Gebed: Almagtige God, help my deur u Gees om elke dag meer soos u Seun, Jesus Christus, te word. Amen