Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (9) - 12 Julie 2016
Ons as Christene moet daagliks meer en meer in alles wat ons doen soos Christus wees.
Dit is belangrik om te weet waar om die grens te trek. Groepsdruk kom dikwels voor wanneer jy tussen mense in jou ouderdomsgroep is of wanneer jy jou in ʼn nuwe omgewing bevind en graag wil inpas. Om gereeld jou eie realiteit te ondersoek, wie jy is en waarin jy glo, sal jou help om op koers te bly. Onthou die bekende spreekwoord: “As jy nie weet waarvoor jy staan nie, sal jy val vir enigiets.”
Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie. Efesiërs 5:1
Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul. Efesiërs 5:18
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. Filippense 4:8-9
Wees iemand wat goeie dade doen. Maak jou geloof eg deur ʼn aktiewe gelowige te wees. Wees ʼn vrywilliger by ʼn sopkombuis of bied jou dienste aan by ʼn gemeenskapsprojek. Jy kan vir jou vriende op kampus, in die ouetehuis of by die werk ʼn lig wees wat skyn deur die manier waarop jy omgee vir ander.
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5:16
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 1 Johannes 3:18
Gebed: Here, gee dat dit wat ek doen nie tot my eie eer sal wees nie, maar slegs tot verheerliking van u Naam. Amen