Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (10) - 14 Julie 2016
Ons hou daarvan om te dink dat dit liefde is waarom alles draai. Ware liefde is wonderlik, oorweldigend en slaan jou asem weg! In Hooglied lees ons:
Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur. Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie. Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daaroor uitgelag word. Hooglied 8:6b-7
Wie sal ooit die liefdestaal verstaan tussen twee mense wat dolverlief is op mekaar:
Hy:“Soos ’n lelie tussen dorings,so is my liefling tussen die meisies.”
Sy: “Soos ’n appelboom tussen wilde bome,so is die man wat ek liefhet, tussen die jongmans.” Hooglied 2:2-3a
Selfs die wyse ou skrywer van Spreuke met al sy wysheid kon nie die geheimenis van die liefde verklaar nie:
Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe ’n aasvoël in die lug bly, hoe ’n slang teen ’n rots op seil, hoe ’n skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ’n man en ’n meisie werk. Spreuke 30:18-19
Seks is in die kollektiewe gedagtes van die meeste mense. Daar is min wat ons weerhou van seksuele verhoudings, of dit in ʼn stabiele langtermyn verhouding is, of met verskeie maats. As ʼn Christen moet jy dit baie duidelik stel hoe jy oor hierdie onderwerp voel. Die Bybel gee vir ons definitiewe riglyne oor losbandigheid. Tog praat die Bybel ook baie openlik oor die fisieke aantrekkingskrag tussen twee verliefdes. Maak ʼn punt daarvan om Hooglied te lees; dit is ʼn poëtiese boek wat die liefde prys:
Jy het my hart gesteel, my beminde bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë, met een skakel in die ketting om jou hals. Hooglied 4:9
Daar is steeds, soos met al die goeie dinge in die lewe, ʼn voorwaarde aan gekoppel:
Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. 1 Korintiërs 6:19-20
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die gawe van die liefde, ook tussen twee mense. Gee dat ons ook in ons liefdeslewe tot u eer sal leef. Amen