Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (13) - 19 Julie 2016

Hier is 'n paar wenke om die eensaamheid aan te spreek wanneer dit vir jou te veel word.

Sluit by ’n Bybelstudiegroep aan. Dit is die vinnigste manier om in aanraking te kom met mense met wie jy gemaklik sal voel. As jy nie ʼn omgeegroep kan vind nie, probeer om self ʼn Bybelstudiegroep bymekaar te kry. Adverteer in jou omgewing, by ʼn winkel of selfs by die werk, en jy mag dalk verras wees oor die terugvoer wat jy kry.

Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry. Matteus 18:19

Moenie skaam wees om ʼn mede-Christen te vra vir gebed of bemoediging as dit voel of jy jou fokus verloor nie. Praat met jou leraar vir raad.

Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, was ek dom en sonder insig; soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra. Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Psalm 73:21-24

Moenie vergeet om op te gradeer nie! Die aanleer van nuwe dinge is ʼn gegewe in enige veld. Gister se oplossings is nie die antwoord op vandag se vrae nie. Net so moet jou geloof ook saam met jou groei. Groei word bewerkstellig deur die Woord van God te lees en te hoor en om saam met ander gelowiges Bybelstudie te doen en te bid.

Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ’n kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.  Hebreërs 5:13-14

Om in die Woord geanker te wees, sal jou help om nie perspektief in jou geloof te verloor nie. Wanneer jy dan met ʼn morele dilemma gekonfronteer word, sal jou kennis van die Woord jou help om besluite te neem wat in lyn is met jou Christelike oortuigings.

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Handelinge 2:42

Gebed: Jesus, dankie dat ons weet in U is die antwoord vir al ons probleme. Dankie ook dat die Bybel ons leer hoe belangrik dit is om in die Woord geanker te wees. Dankie dat U my aan die hand vat. Amen

Previous article: Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (14) - 20 Julie 2016 Prev Next article: Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (12) - 18 Julie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.