Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 20 Januarie

Waar kom my hulp vandaan?

Hennie Symington

Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?

En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.

En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God. Joh 6:67-69

Waarheen gaan jy as jy ʼn probleem het?

Dit hang af wat die probleem is. As dit ʼn mediese probleem is sal jy na ʼn dokter toe gaan. As dit finansieel van aard is sal jy dalk na ʼn rekenmeester toe gaan, en as jy regsprobleme het gaan sien jy ʼn prokureur. Maar waar kry ons raad as die lewe vir ons net te veel word en ons nie herwaarts of derwaarts weet nie?

God het sy Woord vir ons nagelaat om te raadpleeg. Ons het die woorde van die “ewige lewe” tot ons beskikking wat deur Jesus self aan ons gegee is. Ongelukkig wil ons nie altyd die waarheid oor ons situasie hoor nie. Net soos wat sommige mense van dokter tot dokter toe, of van een raadgewer na ʼn ander swerf, om te hoor wat hulle graag wil hoor, so leen ons ons ore ook uit aan elke nuwe “profeet”en dikwels is die Woord van God ons laaste uitweg.

Toe Jesus vir Petrus vra of hy Hom nie ook maar wil verlaat nie, het Petrus geantwoord: “Maar Here, waar anders moet ek gaan. U het dan die woorde van die ewige lewe. Ons kan nie anders as om na U toe te kom nie. U het die antwoord.”

Vir ons is daar ook nie ʼn ander uitweg nie. Wanneer die dokter jou nie meer kan red nie, wanneer jou rekenmeester finaal tou opgooi of jou prokureur jou nie op borgtog kan uitkry nie en selfs jou predikant die handdoek ingooi en jy op moedverloor se vlak is, is God daar. Moenie vra vir tekens en wonders nie – bid net dat God jou die weg sal wys.

Gebed

Here, na wie toe sal ek gaan? Ek kan nie anders as om by U tuis te kom nie. U is my enigste, my eerste en my laaste uitweg. Amen

Previous article: Vers n dag - 21 Januarie Prev Next article: Vers n dag - 19 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.