Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 21 Januarie

Sorg vir die siel

Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.

Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.

En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.

Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag. Jak 5:13-16

As predikante begin oppak …

Die behoefte aan geestelike sorg is besig teen ʼn geweldige pas te groei. Predikante, geestelike werkers en ander sielversorgers kan nie voorbly nie. Hoekom? Vir die eenvoudige rede dat die wêreld waarin ons woon die mens totaal oorweldig.

Mense sukkel eerstens omdat hulle so mobiel is. Mense verwissel deesdae gedurig van huise, werk, woonbuurte en selfs lande Omdat hulle voortdurend aan die beweeg is, voel hulle nêrens tuis nie. Hulle verloor hulle ondersteuningstelsels en wanneer mense geskei word van die bekende raak hulle angstig en kwesbaar. Soms bly jy agter in jou omgewing  maar dis nie meer die ou bekende plek waar jy veilig voel nie. (Terloops, Suid-Afrikaners is seker vandie mees ontwortelde Westerlinge in die wereld.)

Mense gaan ook deur ander krisisse soos egskeiding, die dood van ʼn huweliksmaat, werkloosheid, kinders wat aan dwelms verslaaf is, bejaarde ouers wat versorg moet word, verandering van werk, ens. Mense voel bedreig deur die omgewing en in hulle omgewing. Gʼn wonder ons is soms so sat van siel nie.

Ons almal soek ʼn plek om ons storie te vertel. Ons soek na ʼn oor om te luister, nie ʼn kalmeerpilletjie nie of iemand wat links of regs raad uitdeel nie .

Hoe kan jy help?

Elkeen kan op sy manier geestelike sorg verskaf. Jy kan help deur te luister, aan te raak, te troos en te bemoedig selfs as jy voel jy’s eintlik die een wat geestelike sorg nodig. Wie weet, dalk kry jy nuwe moed deur ander te vertroos.

Gebed

Here, as dit vir my voel asof die wêreld op ʼn massa- senuweeineenstorting afstuur, stuur u mense en engele oor my pad om my op te help. Gee dat ek ʼn engels sal wees vir die een in nood wat oor my pad kom. Amen

Previous article: Vers n dag - 24 Januarie Prev Next article: Vers n dag - 20 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.