Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 24 Januarie

“Ja, oral is my God …”

Bande van die doderyk

het my vasgetrek,

strikke van die dood het my bedreig.

In my nood roep ek na die Here,

ja, ek roep om hulp na my God.

In sy paleis hoor Hy my geroep.

Ek roep na Hom om hulp,

en Hy luister na my. Ps. 18:6-7

Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.

Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid. Ps 121:7,8

Op ʼn dag bevind ek my in ʼn verkeersknoop die snelweg. Daar was nie ʼn manier waarop ek daaruit kon kom nie. Ek kon nie vorentoe of agtertoe beweeg nie. Daar was motors links van my en regs van my en ʼn hele stoet motors voor my. Motoriste het ongeduldig begin toeter blaas en met die vuiste gebal. Ek was paniekbevange omdat ek vasgekeer gevoel het.

Ek wou net uit! Hoekom het ek nie geweet nie! Tot ek begin dink het: waar is ek? Ek is in God se teenwoordigheid. En ʼn paar minute te vore was ek ook in God se teenwoordigheid. En die dag vantevore en die vorige jaar? Daar was ek ook in die teenwoordigheid van God. Ek was in werklikheid nooit sonder die teenwoordigheid van God nie. God is in elke doodloopsituasie waar ons geen uitkoms sien nie. Vra maar die mynwerkers wat vir amper drie maande ondergronds vasgekeer was sonder lig en sonder hoop.

Op pad huis toe het ek daaraan gedink dat God nie slegs teenwoordig is nie, maar dat Hy weet wie ek is. Hy is bewus van al die doodloopstrate en geentoegangsituasies in my lewe. Daar is geen skeiding, of ruimte tussen God en sy kinders nie. God bewaar ons ingang en ons uitgang juis omdat Hy teenwoordig is. En wanneer dit lyk asof daar geen uitkoms is nie, wys God die pad.

Gebed

Here, U red my uit die doodloopstrate van my lewe. U teenwoordigheid maak my rustig want U bewaar my ingang en my uitgang.

Previous article: Vers n dag - 25 Januarie Prev Next article: Vers n dag - 21 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.