Vers n dag - 25 Januarie
Ruk jou gesin reg
Hennie Symington
Die potensiaal vir konflik in die gesin is onbeperk. Soms is dit groot dinge wat pla, maar meestal is dit die klein irritasies van die verskillende lede van die gesin wat mekaar tot raserny dryf. Is dit nie hartseer dat dit wat vir ons die naaste aan die hart lê, die hartseerste plek op aarde is nie?
Daar is hoop vir jou en jou gesin - Of dit nou jy is wat die sondebok is of iets of iemand anders wat konflik in jou gesin veroorsaak, begin vandag iets daaraan doen. Maak nie saak wie die oorsaak van die probleem is nie, daar is sekere dinge wat jy onmiddellik kan toepas.
Hier is ʼn paar Bybelse strategieë om onmiddellik in werking te stel.
Leer jouself om die beste in jou man of vrou en gesin raak te sien. In plaas daarvan om vies te word oor jou man se sokkies op die vloer, fokus op hoe ʼn goeie broodwinner of bedagsame mens hy gewoonlik is. Dalk het hy die sokkies per ongeluk daar gelos. Kinders gerus ook gerus meer erkenning gee aan alles wat Ma vir hulle doen en onthou. ʼn kompliment op sy tyd het nog nooit kwaad gedoen nie.
Lees:
Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Kor. 13:7
Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. Kol. 3:12
Hou op om te kla oor wat jy kortkom. Herinner jouself eerder aan wat jy het en wees dankbaar daarvoor.
Lees:
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. Filip. 4:6
Wees behulpsaam, vertroostend, vol aanmoediging en aangenaam. Niemand hou van ʼn suurpruim nie. As jy die toon aangee in die huis, gaan die ander binnekort jou voorbeeld volg. Maak ʼn punt daarvan om behulpsaam, bedagsaam en vrolik te wees.
Lees:
Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. Mt. 7:12
Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.Filip. 4:5
Gee toe as jy weet jy was verkeerd en steek jou trots in jou sak wanneer jammersê kom.
Nie net loop jy die tweede myl om verhoudings te herstel nie, maar jy stel ʼn voorbeeld vir die res van die gesin.
Lees:
SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.Jak 1:19-20
Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie…
Efes. 4:26-27
Ns. As sake in die gesinsopset werklik hand uit geruk het, is dit tyd vir ʼn intervensie van buite waar huweliksmaats leer om hulle woede te beheer of probleme konstruktief op te los. As ʼn kind of kinders die oorsaak van konflik is, moet hulle deel wees  van die proses.
Lees
Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.Teen sulke dinge is die wet nie. Gal. 5:16-26
Gebed
Here, help my om my gesin insluitende myself Bybelse maniere te leer sodat ons nie net harmonie onder mekaar het nie maar ook ʼn voorbeeld vir die gemeenskap kan wees.