Vers n dag - 26 Januarie
Byna ʼn engel
Hennie Symington
Skriflesing
Heb 2:5-8
Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:
“Wat is 'n mens
dat U aan hom dink,
'n mensekind
dat U na hom omsien?
U het hom 'n kort tydjie
minder as die engele gemaak;
U het hom met heerlikheid
en eer gekroon;
U het alles aan hom onderwerp.â€
As n mens terugkyk oor die geskiedenis van die mensdom moet jy na jou asem snak oor wat die mensdom bereik het. Ons word nooit moeg vir die wonder van ʼn Leonardo, ʼn Michaelangelo, ʼn Shakespeare, ʼn Goethe, ʼn Beethoven, ʼn Rembrandt, en selfs ʼn N P van Wyk Louw nie.
Ook die tegnologie laat ʼn mens duisel. Met die druk van ʼn knoppie word jou wêreld in ʼn fantasie omskep. Virtuele werklikheid het ons in ʼn ander dimense van die menslike bestaan ingelei.
In die laaste eeu het die mens swaartekrag oorwin. Hiermee is die moontlikheid van reise ver buite die bekende heelal in die vooruitsig gestel. En dit alles terwyl Einstein se relatiwiteiteorie die moontlikheid van ʼn ander dimensie van tyd, plek en ruimte vir ons geopen het. Die mens het selfs sover gegaan om lewe in ʼn toetsbuis te propageer.
Wat is die mens dan?
Juis daarom kan ons tereg vra: Wat is die mens? En die antwoord wat ons kry: Byna ʼn engel! Byna so hoog verhewe. Byna soos God. Die enigste verskil is: die mens loop op ʼn fyn lyn tussen goddelikheid en absolute verdorwenheid. Net so dikwels as wat hy groot hoogtes bereik, net so laag kan hy ook daal.
As ons dus terugkyk oor die menslike geskiedenis, is dit nie net om ʼn glasie te klink op die mens se “beste uur†nie, maar ook om herinner te word aan sy donkerste oomblikke.
Die wonder is: God staan aan beide punte van hierdie spektrum. Hy is die Alfa en die Omega, die begin en die einde van die heelal. Aan die grense van alle ontdekking staan God reeds van die grondlegging af.
Gebed
Dankie Here vir die wonder van die mens wat U na u beeld geskape het. Dankie dat U ons uitgekies het as U geselskap ten spyte ons sondigheid. Dankie dat u U nie net as Skepper God aan ons geopenbaar het nie, maar ook as Redder God. Amen