Vers n dag - 27 Januarie
Met hoeveel onderskeidings spog jy?
Hennie Symington
Skrifgedeelte
1 Kor 1 21-22
Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22
1 Kor 3:18
Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word, want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.
Kennisontploffing
In ʼn wêreld waar die omvang van kennis so geweldig uitgebrei het dat dit ʼn leërskare uit elke studierigting sou neem om alles te weet wat daar te wete is, vra jy jouself af: hoe kan ek ooit hoop om genoeg kennis te versamel om wys te word?
Is dit nog enigsinds moontlik om ʼn intelligente gevolgtrekking oor die lewe te maak as ons kennis van ons wêreld so gebrekkig is?
Daar is natuurlik mense wat baie slim is en vir wie geen wiskundige probleem te moeilik is nie, vir wie fisika en chemie ʼn ope boek is en wat die gawe het om wonderlike verhale en poësie oor alle onderwerpe onder die son te skryf. Maar watter kennis het God in gedagte wanneer Hy oor kennis praat? Is dit boekgeleerdheid, akademiese uitmuntendheid of besondere intellektuele vermoëns. As dit die geval was het was die meeste van ons seker maar onder aan die puntelys.
Wat is kennis in God se oë?
Dis die gawe van onderskeiding, d.w.s die gawe om te kan kies tussen dit wat belangrik is en dit wat onbelangrik is of om van die volheid van die skepping bewus te wees sonder om daardeur oorweldig te word.
Kennis is sekerlik ook selfkennis. Om jou aard en wese te ondersoek en te leer ken; om te weet wat jou swak en sterk punte is; te weet wat jy glo en wat vir jou belangrik is is noodsaaklike kennis in vandag se lewe..
God se gawe van kennis vereis nie ʼn universiteitsgraad of selfs ʼn matrieksertifikaat nie. Dis opgeteken in die handboek van God, die Bybel wat die aard van God en Sy handeling met die mense deur al die sonligprentjies in sy Boek in al sy diepte en wydte aan ons openbaar. Al wat jy hoef te doen is om dit jou eie te maak.
Gebed
Here, dankie vir die gawe van geleerdheid. Meer nog Here, dankie vir die wonder van die Bybel wat U wysheid aan ons openbaar.