Vers n dag - 28 Januarie
Wanneer God uit die openbare lewe uitgeskryf word
Hennie Symington
Skriflesing
Efesiers 2:20
…terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,
in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here …
I Pet 2:6-7
Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.
7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen des aanstoots en ’n rots van struikeling —
Waar is God nog sigbaar in die openbare lewe? Die neiging wêreldwyd is om God uit te skryf uit alle publieke instansies en organisasies  want dit sou glo aanstoot gee. Soms gebeur dit te midde van ʼn groot bohaai en soms sommer net so sonder omhaal. Vandag staan God nog in ʼn leuse geskryf en more is dit net weg, vervang met iets heeltemal neutraal.
Waar laat dit ons as Christene in ʼn oorwegend Christelike land? Is dit maar die beloop van die wêreld? Moet ek dit maar gelate aanvaar want die owerhede het besluit dis hoe dit is?
Tree in die bres vir God se naam
Natuurlik kan jy protesteer en vertoë rig en aan die koerante skryf, maar dit gaan waarskynlik niks aan die saak verander nie. Wat staan jou as Christen dan te doen? Besef eerstens dat jou roeping as Christen net  soveel groter geword het. In daardie gaping waar God se naam geskryf gestaan het, moet jy in die bres tree. Jy kan nie bekostig om jou te skaar by die moedeloses, die pessimiste, die oproermakers, die haters en afkrakers van ander, die sinici of die negatiewes van hierdie wêreld nie.
Jy staan en leef vir iets baie groters. Jy as Christen het ʼn roeping om te uit te leef dit wat jy uit God se Woord geleer het. Dit spreek luider as die woorde op enige leuse op openbare gebou.
Ns.
Die troos is dat dit wat op mure of papiere geskryf staan, kan more deur die gang van die geskiedenis weggevee word. Maar dit wat op die tafels van jou hart geskryf staan bly vir ewig staan.
Gebed
Here, U het nie nodig vir mense om U eer te verdedig nie.U is van ewigheid af en ons is sterflik. Laat u Naam geheilig word. Amen.