Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? God word mens - 7 September 2016

Danny Fourie

Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.  Lukas 2:7

Maria, wat nog nooit saam met 'n man bed toe was nie, raak swanger deur die Heilige Gees. Dit is 'n belangrike feit. 'n Gewone mens kan nie die Verlosser verwek nie. Ons kan heelwat dinge doen. Daar word baie knap, magtige en intelligente mense gebore. Met kloning is die mens selfs in staat om 'n supermens gebore te laat word. Maar 'n man en 'n vrou, Josef en Maria, kan self “die Verlosser” nie verwek nie. Daar moet God self, die Heilige Gees, dit doen. As daar iets nuuts moet gebeur, in die geskiedenis of met jou, dan is die Heilige Gees altyd eerste daar.

Jesus word nie in 'n paleis gebore nie, maar in 'n beesbak. Skaars was Hy gebore of sy lewe word deur die wrede koning Herodes bedreig. Dosyne onskuldige seuntjies word vermoor en Jesus ontkom deur te vlug. Sy eerste jare het Hy as 'n vlugteling deurgebring, 'n asielsoeker in Egipte. Is dit die Verlosser?

Dit is moeilik om te verduidelik hoe wonderlik dit is dat God mens geword het. Dit is moeilik om jou voor te stel dat die Skepper van alle dinge Homself so klein kan maak. Hy word 'n fetus, 'n babatjie, wat weerloos in die arms van sy onervare jong ma lê. Hy het Homself “ontledig” skryf Paulus later heel mooi. Die Skepper word 'n bevrugte eiersel. Die God wat alles in sy mag het en sy mag deur heel die Ou Testament laat sien het, duik skielik in Israel op: As 'n baba wat melk drink by sy ma, wie se doek omgeruil moet word en net soos alle ander babas huil.

Gebed: Dankie Skepper God dat U wat so groot is, bereid was om so klein te word – 'n baba wat in 'n beesbak neergelê is. Al het u lewe so vreemd begin, is U die Verlosser, wat ook die Koning van my lewe wil wees. Help my om dit te aanvaar. Amen.

Previous article: Wie is hierdie man? God buig neer na ons - 8 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? Is dit die Verlosser? - 6 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.