Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? God buig neer na ons - 8 September 2016

Danny Fourie

Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. Efesiërs  4:10

Toe my kinders klein was, het ons vir hulle 'n konyn gekry. Sy naam was Broloks, 'n liewe konyn, maar nogal bang. Wanneer ons vir hom kos geneem het, het hy altyd vinnig na sy hokkie gehardloop, asof ons reusagtige roofvoëls was waarvoor hy moes vlug. Al het ons ook gesê Broloks moet nie bang wees nie, kon ons hom nooit vertel hoe lief ons vir hom is nie. Hy praat nie mensetaal nie. Vir Broloks was ons oneindige groot, tweebeen wesens.

Dis jammer dat ons nie konyntaal kon praat nie. Maar daarvoor sou ons self konyne moes word om werklik met Broloks te kommunikeer. Dit is natuurlik nie moontlik nie. Maar veronderstel dat 'n mens 'n konyn kon word, dan is dit nog niks in vergelyking met God wat 'n mens geword het nie. Die God wat alles gemaak het, het die gestalte aangeneem van die materiaal wat Hy self gemaak het.

Dit het God gedoen om ons van sy liefde en sorg te oortuig. Hy is nie die onbegryplike groot God vir wie ons bang hoef te wees nie. Hy is nie die bose God wat oor die konynhok-aarde buk om ons bang te maak nie. Hy is die liefdevolle God wat dit wou kom demonstreer.

Deur mens te word het God nader aan ons as ooit tevore gekom. As julle nie na My toe kan kom nie, dan kom Ek maar na julle toe. Sy intense betrokkenheid by die wêreld het sigbaar geword. Deur ons wêreld binne te kom wys Hy hoe belangrik jy vir Hom is en hoe ernstig Hy die wêreld opneem. Die liefde lê 'n klein vertederende baba bloot.

Gebed: Dankie Here dat U die inisiatief geneem het om na my toe te kom, om vir my te wys hoe groot u liefde vir my is. Dankie dat U ernstig is oor my en u verhouding. Amen.

Previous article: Wie is hierdie man? Nie net woorde nie, maar dade - 9 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? God word mens - 7 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.