Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 1 Februarie

HUIDIGE REEKS: Ontdek God . . . van A-Z (die vervolg). Elke dag word gekyk na ’n ander letter en God se eienskappe daaraan gekoppel. Vandag is dit “R”. (Kry gerus A-P wat in November uitgegaan het op www.versndag.co.za).

DAG 18: GOD IS ONS REDDER

Deur Benescke Janse van Rensburg

26 Desember 2010 het as ’n gewone Sondagoggend op Hartenbos begin. Hoewel dit ’n bewolkte dag met min mense op die strand was, het die 9-jarige Bianca Stark sorgeloos op die strand baljaar. ’n Paar honderd meter weg van haar, het haar ouers hulle straatstalletjie beman.

Meteens het die tonnel wat Bianca in die sand gegrawe het ineengestort wat haar kop onderstebo in die sand laat beland het. Magteloos het sy probeer uitkom voordat sy weens die gebrek aan suurstof onder die sand haar bewussyn verloor het.

’n Paar minute later het Pierre Rousseau, ’n tandarts van Pretoria en sy vrou, Elize vanaf die wandelpaadjie langs die strand nuuskierig na die “rob” gekyk wat langs die see uitgespoel het. Eers toe hulle nader stap het hulle besef dat dit nie ’n rob was nie, maar ’n kind wie se bene bo die sand uitgesteek het.

Pierre het onmiddellik nader gehardloop na waar ’n ander man reeds besig was om Bianca uit die sand te probeer grou. Geskok het Pierre na Bianca se dowwe oë en blou liggaampie gekyk toe hulle haar uit die sand trek. Sy het nie asemgehaal nie.

Hoewel Pierre dadelik met mond-tot-mond-asemhaling op Bianca begin het, het sy nie gereageer nie. Die getal nuuskierige omstanders het gegroei en die spanning binne Pierre het nou breekpunt bereik. Was hulle reddingspogings reeds te laat? Een van die omstanders het laat hoor dat hulle Bianca se lyk “asseblief tog” moes toegooi sodat dit nie die ander vakansiegangers ontstel nie.

’n Dringendheid om die dogtertjie se lewe te red, het egter binne Pierre opgestoot. Langs hom het een van die omstanders aanhoudend vir Bianca gebid het. Weer het Pierre mond-tot-mond-asemhaling probeer terwyl Bianca se kans op oorlewing met elke minuut skraler geword het. Net toe Pierre wou moed opgee, het Bianca hard gesnik voordat sy op haar eie begin asemhaal het. Uit verligting het ’n spontane applous vanuit die omstanders losgebars.

Psalm 18:3: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.”

God is ons REDDER. Nie net het Hy gesorg dat Pierre, wat twee weke voor die insident op die strand sy noodhulp-opknappingskursus gedoen het, op presies die regte tyd op die regte plek was sodat hy vir Bianca kon red nie. God het ook die biddende man langs Pierre op die strand se gebed vir Bianca verhoor en gesorg dat sy sonder enige breinskade haar bewussyn daardie dag op die strand herwin het.

Net so kan God enige moeilike situasie in jou lewe verander. Hy kan ’n gebroke verhouding herstel, ’n hindernis wat soos ’n berg voor jou lê platmaak of aan jou bonatuurlike wysheid gee wanneer jy belangrike besluite moet neem. Waarom kies jy nie ook om Hom vandag jou rots en skuilplek te maak nie? Hy wil immers jou veilige vesting wees. Sterkte.

Vader God, dankie dat U my rots en my redder is. Help my om nuut te besef dat geen situasie ooit vir U te groot is om my deur te help. Lei my en versterk my om my oë op U te hou. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Sien foto van die Bianca op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.

** Luister na die onderhoud met Bianca se pa, Heiko Stark en Pierre Rossouw wat in Januarie 2011 op Radiokansel uitgegaan het: http://www.radiokansel.co.za/radio_Best.html

** Benescke Janse van Rensburg is ’n vryskutskrywer en radio-omroeper by Radiokansel.

NUUSBROKKIE:

  1. HUIDIGE REEKS: In November 2010 het ek die letters A-P van God se karakter geskryf. As jy dit gemis het, kan jy dit in ons argief by www.versndag.co.za opspoor. Vir hierdie week skryf ek Q-Z. Jy kan elke dag deelneem deur jou voorstelle vir die volgende letters na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. te stuur. Aan die einde van die week word die kreatiefste deelnemer vir die week gekies.

ANDER “R”-KARAKTEREIENSKAPPE VAN LESERS:

  • Regverdig
  • Raadsman
  • Rots

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 2 Februarie Prev Next article: Vers n dag - 31 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.