Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 2 Februarie

HUIDIGE REEKS: Ontdek God . . . van A-Z (die vervolg). Elke dag word gekyk na ’n ander letter en God se eienskappe daaraan gekoppel. Vandag is dit “S”.

DAG 18: GOD IS SOEWEREIN

Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek hoor onlangs die storie van ’n Amerikaanse evangelis wat beplan het om ’n opelug-saamtrek in ’n land te hou wat bekend was vir hulle politieke onrus en geweld in die verlede. Die regering van daardie spesifieke land was opgewonde oor die voorstel en het vir ’n jaar lank saam met die evangelis se span aan die reëlings vir die geleentheid gewerk. Duisende mense was verwag om by die saamtrek op te daag.

Met die aanvang van die week waarin die saamtrek sou plaasvind, was alles gereed. Die verhoog, ligte en klank is opgestel. Honderde vrywilligers het aangemeld om by die geleentheid te help. Tot op daardie stadium het die Amerikaanse evangelis se bediening duisende dollars aan die bemarkingsveldtog spandeer om die publiek in daardie land na die funksie uit te nooi.

Die aand voor die saamtrek, het dit egter begin stortreën. Almal betrokke by die funksie het gebid dat God die sluise van die hemel sou sluit sodat die saamtrek kon voortgaan. Dit het egter nie gebeur nie. Teen 13:00 die volgende dag was die veld waar die saamtrek gehou sou word onder water en tot almal se teleurstelling moes die funksie afgestel word.

Met groot teleurstelling oor die vermorsing van tyd, energie en geld het die evangelis en sy span na Amerika teruggekeer.

Twee weke later, toe die veld begin uitdroog, het die tegniese span begin om die toerusting af te slaan. In die middel van die veld het een van die spanlede vreemde drade en kabels uit die grond gesien kom wat deur die reën oopgespoel was. Die tegniese span het dadelik die polisie ontbied. Tot almal se skok het die bedrading na ’n groot bom in die middel van die veld gelei. Die bom se krag was so groot dat dit die hele veld en heel moontlik al die mense wat daarop sou vergader totaal kon uitwis.

Die koerant se hoofopskrif die volgende dag het gelei: “Reën red mense se lewens.” Die ware opskrif moes eintlik gewees het: “God red mense se lewens.”

Psalm 135:5-6: “Ek weet, die Here is groot, ons Here is verhewe bo al die gode. Alles wat die Here wil, doen Hy, in die hemel en op aarde.”

God is SOEWEREIN. In elke situasie het Hy die laaste sê. Voordat jy dus volgende keer kla oor ’n pap wiel, ’n verhouding wat nie uitgewerk het nie, ’n onsuksesvolle werksaansoek of reën wat jou funksie bederf, begin om God te dank. Heel moontlik is Hy besig om jou te beskerm en/of te lei na iets veel beter as waarmee jy nou tevrede sou wees. Vertrou op Hom, want Hy laat alles altyd ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U soewerein is en altyd alles ten goede laat meewerk vir die wat U liefhet. Lei my om in U te rus en nie te begin stres as dinge nie uitwerk soos wat ek dit beplan het nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n vryskutskrywer en radio-omroeper by Radiokansel. Vir meer inligting oor die stasie besoek www.radiokansel.co.za.

NUUSBROKKIE:

  1. MOTIVERINGSPREKER: Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:
    1. 26 Maart 2011: Stellenbosch. Vir meer inligting, kontak Issie Jacobs by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..
    2. 13 Mei 2011: Nieuwoudtville. Vir meer inligting, kontak Heidi van Niekerk by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 

  1. HUIDIGE REEKS: Jy kan elke dag aan die huidige reeks deelneem deur jou voorstelle vir die volgende letters na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. te stuur. Aan die einde van die week word die kreatiefste deelnemer vir die week gekies.

INTERESSANTE TERUGVOER VAN LESERS VIR “S”:

  • S: Stuurman, Sagmoedig, Steunpilaar, Skepper
  • Sandkorrels: God weet van elke sandkorreltjie op hierdie aarde. Net so weet Hy ook van elkeen van ons.
  • Syne: Jy is syne. Hy het met sy bloed vir jou betaal.
  • Son: God verhelder my lewe net soos die son die aarde verlig.
  • Skeidsregter -Iemand wat onpartydig regspraak kan lewer
  • Super Hero: Bowenal dink ek God is ons Super Hero!

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

 

 

 

Previous article: Vers n dag - 3 Februarie Prev Next article: Vers n dag - 1 Februarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.