Wie is hierdie man? Mag oor siekte en dood - 21 September 2016
Danny Fourie
Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien. Markus 8:25
Uitermate indrukwekkend is Jesus se mag oor siekte en dood. Aan die begin van sy bediening as Messias het Hy mense met 'n enkele gebaar of woord genees. “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” “Steek jou gebreklike hand uit” en die hand het gesond geword. Hy het sy vingers in die ore van 'n dowe gesteek, gespoeg, sy tong aangeraak en gesê: “Gaan oop.” Hy spoeg in die oë van 'n blinde, lê hom die hande op en die blinde kan sien. 'n Vrou met bloedvloeiing wat die hele mediese beroep geraadpleeg het, word genees. Die afgesnyde oor van 'n slaaf word sommer weer aangeplak. Ook mense wat besete was en mense met 'n siek gees het Jesus genees.
Jesus het gekom om die werk van Satan te verbreek. Agter elke siekte moet ons die vernietigende krag van die sonde sien. Dit was nie bedoel om so te wees nie. Oral waar Jesus gekom het, was daar 'n gewemel en 'n gesleep van matrasse en siekes. Waar Hy ook al gekom het, het die siekes op die markpleine gelê. En almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword. Mettertyd het Jesus 'n soort attraksie geword, 'n rondreisende wonderman. Die dokters van die tyd was ontsteld en kwaad want hul pasiënte het minder geword.
Mense was verbaas toe Hy die dogtertjie van Jaïrus uit die dood lewend gemaak het. Waarom het Jesus dit enigsins gedoen? Sodat die mense moes glo dat God Hom gestuur het. Hy het mag oor lewe en dood. Jesus het duidelik gewys dat Hy gekom het om ook die gevolge van die sonde te oorwin.
Die hele Israel het van verbasing versteen. Wie is hierdie Man?
Gebed: Dankie Jesus dat U 'n hart vol liefde het vir siek mense. Dat U hartseer is wanneer iemand moet doodgaan. Dit was nie so bedoel nie. Dankie dat U die krag van die sonde oorwin het. Amen.