Wie is hierdie man? Jesus se mag oor die natuur en oor mense - 22 September 2016
Danny Fourie
Al die mense het geëet en genoeg gekry. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend. Markus 6:42,44
Asof dit nie einde kry nie, gaan die verslae oor hoe besonder Jesus is, voort. Hy gee meer as 5 000 mense kos met vyf visse en twee brode. 'n Bakker sou dae lank moes bak om soveel brode te kon lewer. Later het Hy nog 'n keer dieselfde met sewe brode gedoen. Hy loop op water asof swaartekrag nie bestaan nie. Die dissipels het eers gedink dit is 'n spook. Hy maak 'n bulderende storm stil en op sy stem raak die see kalm. Die mense glo Hom nie, maar die natuur luister ten minste na Hom. Jesus ry op 'n onberede, ongetemde donkie ongestoord Jerusalem binne.
Op sy stem stort 'n kudde van 2 000 besete varke oor 'n steil afgrond die see in. Wie is hierdie man tog dat alles en iedereen, heel die wêreld na Hom luister? Daar is blykbaar geen deel van die wêreld waaroor Hy nie mag het nie.
Vir Andreas en Simon sê Jesus: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak.” Ek kan dink dat die vissers na mekaar gekyk het. Is U nou heeltemal … Hier lê alles van my waarin ek duisende in belê het. En tog, ook Jakobus en Johannes, seuns van Sebedeus, los hulle pa, bedryf, boot en personeel net daar en loop agter Jesus aan. Levi, die korrupte belastingamptenaar loop sondermeer uit sy kantoor en volg Jesus. Wat is dit wat Jesus uitgestraal het? Blykbaar kon jy nie sy opdrag weier nie. Was dit sy oë wat so oortuigend was? Vreemd dat hulle 'n wildvreemde volg. Wie is hierdie Man?
Die skepping het nooit Jesus se mag ontken nie. Net die eiewyse mens het. Ons is die enigste wat ja of nee kan sê. Dit maak die mens so uniek en kwesbaar.
Gebed: Ek staan weer verwonderd voor u mag, Jesus. Help my om u aanspraak op my lewe te erken. Amen