Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? Jesus se mag om sonde te vergewe - 23 September 2016

Danny Fourie

Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” Markus 2:5

Vier manne dra 'n verlamde man tussen hulle. Hulle is op pad na Jesus toe. Van ver af sien hulle dat dit moeilik gaan wees om by Jesus uit te kom. Hulle laat hulle nie keer nie. Hulle klim op die dak en breek 'n gat in die dak. Jesus is beïndruk met hul deursettingsvermoë en hul vertroue in Hom. Hy reageer vreemd: “Vriend, jou sondes word vergewe!” Daar lê die verlamde man. Niks gebeur nie. Hy sou graag wou loop.

Hierdie situasie kan ook in ons tyd afspeel. Jesus, sal U my asseblief help? Ek is siek of ek het steeds 'n rusie met my ouers of dit gaan nie goed met my in my werk nie. En Jesus sê: “Ek sal jou graag wil help. Ek sal jou sonde vergewe.” Ek het nie net gekom om mense van hul liggaamlike of psigiese siektes te genees nie. Ek het veral gekom om jou van jou grootste probleem in jouself, die sonde, te verlos.

Dan vervolg Jesus. Hoe gebeur dit dat mense siek word? Waarom skel ons op mekaar en haat mekaar soms? Dit het alles ontstaan toe die mens teen God gekies het … Wanneer die lewegewende bande met God deurgesny word, verdwyn die pragtige lewe soos wat God dit gemaak het en kom chaos en wanorde in die plek daarvan.

Jesus is nie 'n medisynekassie waaruit jy iets kan haal as dit met jou sleg gaan nie. Hy is nie 'n noodsentrale – 911 – nie. Tog wil Hy elke dag daar wees vir jou. Die verhouding tussen jou en God is sy werkterrein. Sy lewensdoel is nie om 'n wonderdokter te wees nie. Hy doen wonders om jou te leer om te vra: Wie is hierdie Man? Soms genees Hy omdat dit vir jou verhouding met God goed is. Soms nie omdat dit nie vir jou goed is nie.

Gebed: Dankie Here Jesus dat U sonde kan vergewe, want dit is wat ek die nodigste het. Amen.

Previous article: Wie is hierdie Man? Sy karakter is seldsaam - 26 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? Jesus se mag oor die natuur en oor mense - 22 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.