Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 3 Februarie

HUIDIGE REEKS: Ontdek God . . . van A-Z. Elke dag word gekyk na ’n ander letter en God se eienskappe daaraan gekoppel. Vandag is dit “T”.

DAG 18: GOD IS ONS TROOSTER

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Na nog ’n onlangse selfmoord by die Van Stadensbrug in die Oos-Kaap het Maretha, een van ons Vers-’n-Dag lesers, haar getuienis aan my gestuur van hoe God in 2008 ingegryp het toe sy op dieselfde brug gestaan het. Hier is haar getuienis.]

Maretha: “Waar ek ’n entjie van die Van Stadensbrug in my motor gesit het, het my selfoon aanhoudend gelui. Ek het die geïgnoreer. Niemand sou verstaan waarom ek die 40km tot by die brug gery het om daar af te spring nie.

“Deur ’n waas van trane het ek my laaste SMS aan my broer gestuur: ‘Ek is lief vir jou’. Almal anders sal seker bly wees om van my ontslae te wees, het ek gedink terwyl ek die sleutel in my motor los en na die brug begin stap. Dit was koud waar ek op die reëling van die brug gaan sit het. Alles was doodstil rondom my. Van onder die brug het die donker dieptes na my geroep.

“Ek het my selfoon by die brug laat afval en dit dopgehou tot waar ek dit nie meer kon sien nie. Nou was dit my beurt! Ek het stadig opgestaan en met moeite na die kant van die brug gestap.

“Die geluid van ’n voertuig op die agtergrond het my onderbreek. Ek sou wag totdat dit verby was. Meteens het dit egter met skreeuende bande tot stilstand gekom. Ek kon die rubber op die teer ruik en het gehoor hoe die bestuurder die taxi se deur toeklap voordat hy na my aangestap kom.

“‘You can rape me. You can murder me. You can have it all. I don’t care . . .,’ het ek myself hoor sê. Die man het versteen gestaan. Ek het die woorde herhaal. Vir ’n oomblik het dit gelyk asof hy wil omdraai en wegstap toe ek hom hoor sê: ‘God and I care.’

“Ek was woedend. Ek het nie die krag gehad om na ’n preek te luister nie. Al wat ek wou hê is dat die man moes weggaan sodat ek kon afspring. ‘Nou waar was God toe ek Hom nodig gehad het?’ het ek na hom geskree. Hy het kalm na my gekyk voordat hy antwoord: ‘Juffrou, waar was u toe God u nodig gehad het?’ Sy woorde het die wind uit my seile geneem. ‘Hoekom sal God ’n mislukking soos ek benodig? Hy het sekerlik ander beter mense wat Hy kan gebruik.’

“‘‘God maak nie mistakes nie,’ het die man voortgegaan. “Wat jou ook al na hierdie brug gebring het . . . Hy kan en wil jou deurdra!’ ’n Stilte het tussen ons neergedaal. Moes ek steeds spring? Wat as God hierdie vreemdeling gestuur het om aan my te wys dat Hy steeds omgee?

“Op die vraag of hy vir my kan bid, het ek kortaf geantwoord dat hy kon doen wat hy ook al wou. Hy het in sy moedertaal begin bid. Hoewel ek dit nie kon verstaan nie, het ’n rustigheid oor my neergedaal.

“Die man het vir my gesê dat hy nie sonder my sou vertrek nie. Ek het probeer protesteer, maar gesien dit sou nie help nie. Die man het saam met my na my motor gestap. Hierna het hy in sy taxi geklim en saam met my weggetrek. In my motor se truspieëltjie kon ek die ligte van die taxi sien wat my volg. Dit het my vreemd veilig laat voel. Eindelik terug by my woonstel het ek omgedraai om die vreemdeling te gaan bedank. Hy was egter weg.

“Ek weet nie wat sy naam is, waarheen hy op pad was of waarvandaan hy gekom het nie. Al wat ek weet is dat God hom daardie dag na die brug gestuur het om my lewe te kom red!”

2 Korintiërs 1:3-4: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee...”

God is ons TROOSTER. Hy vee ons trane weg, Hy versterk ons as ons swak voel en Hy kan ’n taxi vanuit nêrens stuur om langs ons stil te hou omdat ons elkeen se lewe vir Hom kosbaar is. Gaan jy vandag deur ’n geweldige moeilike tyd in jou lewe? Onthou, jy is nie alleen nie. Hy is reg langs jou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek in elke hartseer situasie in my lewe my oë op U kan hou met die wete dat ek nie alleen is nie. Lei my en versterk my elke dag en trek my nader aan U. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Kyk na ’n foto van Maretha op STORIES VAN HOOP se bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n vryskutskrywer en radio-omroeper by Radiokansel. Vir meer inligting oor die stasie besoek www.radiokansel.co.za.

NUUSBROKKIE:

1.      MOTIVERINGSPREKER: Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:

a.       26 Maart 2011: Stellenbosch. Vir meer inligting, kontak Issie Jacobs by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

b.      13 Mei 2011: Nieuwoudtville. Vir meer inligting, kontak Heidi van Niekerk by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

2.      HUIDIGE REEKS: Jy kan elke dag aan die huidige reeks deelneem deur jou voorstelle vir die volgende letters na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. te stuur. Aan die einde van die week word die kreatiefste deelnemer vir die week gekies.

INTERESSANTE TERUGVOER VAN LESERS VIR “T”:

  • Tydloos: God se liefde en omgee is tydloos
  • Toevlug: Die Here is ons toevlug
  • Tas: Dra altyd ’n tas vol herinneringe saam met jou van wat God vir jou gedoen het. So word jou geloof versterk.
  • Tawwe: Al wys jy ’n tawwe kant aan mense, by God kan jy net jouself wees en hoef jy nie altyd sterk te wees nie.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 4 Februarie Prev Next article: Vers n dag - 2 Februarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.