Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wat het hierdie Man kom doen? Die gordyn na die hemel oopgemaak - 30 September 2016

Danny Fourie

Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur. Markus 15:38

Baie van ons het die gewoonte om wanneer dit donker word, die huis se gordyne toe te trek, weg van die nuuskierige oë.

Na die sondeval het daar 'n gordyn tussen ons en God ontstaan. Uit onsself het ons nie meer geweet wie God is nie. God was mistig en vaag vir ons. Toe die tabernakel gebou is, het God self opdrag gegee dat daar 'n gordyn moet wees wat sy woonplek, die allerheiligste, afskerm. Dit het God gedoen om die mense teen sy groot heiligheid te beskerm. Die gordyn in die tabernakel en later in die tempel, was 'n duidelike simbool dat alles tussen ons en God nie pluis was nie.

Markus is heel sober wanneer hy oor die gebeurtenisse rondom die sterwe van Jesus skryf. Hy skryf net die belangrikste feite op. As jy wil weet wat die kruisiging van Jesus beteken, weet dan dit: Toe Jesus deur God verlaat is en sterf, toe skeur die voorhangsel van bo na onder. Die priesters het nie die gordyn oopgetrek of geskeur nie, dit was asof 'n geheimsinnige hand uit die hemel die gordyn tussen God en mens oopgeskeur het. Weg met daardie gordyn. Nooit weer 'n gordyn tussen God en die mens nie.

Hierdie enkele feit het groot betekenis. Nou is die pad na God weer oop. Jou en my skuld, wat die pad na God soos 'n gordyn geblokkeer het, is betaal. Nou mag ek en jy vrymoedig by God kom.

Jesus self het gesê dat Hy die weg en die waarheid is. Nou dat daar weer 'n pad na God is, die pad van vergewing, is 'n gordyn nie meer nodig nie. God self het die gordyne van die hemel oopgetrek en sê vir jou: Kom na My toe, jy mag my kind wees.

Gebed: Dankie Here Jesus dat U u lewe self weggegee het. Ons juig dat u sterwe die gordyne van die hemel vir ons oopgetrek het en dat daar weer 'n pad na die Vader is. Amen.

Previous article: Dag 1: Hy kan. . . - 3 Oktober 2016 Prev Next article: Wat het hierdie Man kom doen? Hy is tot sonde gemaak - 29 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.