Dag 1: Hy kan. . . - 3 Oktober 2016
Tema vir die maand: Hy kan. . .
Deur Benescke Janse van Rensburg
Daniël is in die leeukuil gegooi. Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond. Ester moes ongenooid by die koning opdaag. Elia moes as enigste gelowige op die Berg van Karmel gaan staan en bid vir vuur uit die hemel. En Dawid het die reus, Goliat aangedurf.
Dit is wonderlik om die uiteinde van hierdie verhale te lees. Daniël is nie deur die leeus verskeur nie omdat God hulle bekke gesluit het. Sadrag, Mesag en Abednego is sonder ’n geskroeide haar uit die vuuroond gelaat. Ester het daarin geslaag om die Joodse volk te red. Elia het beleef hoe God vuur uit die hemel stuur. En Dawid het die reus verslaan. Tog, vergeet mens maklik dat elk van hierdie mense hulle lewens gewaag het. Hulle het waagmoed gehad, maar hulle moes verseker ook met tye geworstel het met daardie “wat as” vreesgedagtes. “Wat as”... dinge nie uitwerk soos wat hulle op gehoop het nie. Hulle geloof en vertroue in God het hulle egter telkens gehelp om die “wat as” gedagtes te verdryf.
In Hebreërs 11:1 lees ons: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” En Genesis 18:14 lees ons: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” En ons weet die antwoord is “nee”.
Staan jy dalk ook met jou rug teen die muur omdat jy God vir iets bonatuurlik vertrou? Die redding van jou kind, ’n finansiële deurbraak, ’n nuwe werksgeleentheid, ’n huis van jou eie, die herstel van jou huwelik of dalk jou eie of ’n geliefde se genesing? Die vyand gaan alles in sy mag doen om die “wat as” vreesgedagtes by jou te laat posvat.
In hierdie maand wil ek egter hê dat ons op God sal fokus – nie net sy vermoë om enigiets te doen nie, maar juis net op wie Hy is. Wanneer ons dit doen, gaan ons saam beleef hoe ons geloof en vertroue in Hom versterk word en die “wat as” gedagtes al minder word. En wie weet, dalk verras Hy ons ook net soos Hy gedoen het vir Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego, Ester, Elia en Dawid. Hoekom? Want HY KAN.
Vader God, baie dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. Ek loof en prys U vir wie U is en nie net vir wat U vir my kan doen nie. Versterk my asseblief wanneer die “wat as” gedagtes my wil oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Opdrag vir die dag: Skryf drie eienskappe van God neer wat vir jou uitstaan. Dink daaroor na en sê vir Hom dankie daarvoor.
- Gesels saam: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke