Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 2: Hy kan ons meer tyd gee - 4 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Het jy al ooit ’n oggend opgestaan en gewonder hoe op dees aarde jy deur jou “Doen-lysie” vir die dag gaan kom? Dalk is dit hoe jy vanoggend voel?

’n Tydjie gelede het ek só gevoel. In my gesprek met God oor alles wat ek moet doen, het ek ervaar hoe Hy my aan die gebeurtenis in Josua 10:13 herinner. In Josua 10 is daar ’n veldslag met Josua en die Israeliete aan die een kant en die Amoriete aan die ander kant. Josua het besef dat hulle meer daglig benodig om die oorwinning te behaal en Hy vra God daarom om die son en maan te laat stilstaan. God het sy gebede gehoor en dit só laat gebeur. Die Israeliete het daardie dag die oorwinning behaal.

Soms wil ons ook vir God vra om die son en maan te laat stilstaan sodat ons alles afgehandel kan kry in ons dag. Alhoewel Hy dit kán doen, doen Hy dit meestal nie fisies nie. Hy vul ons eerder met wysheid, kreatiwiteit en kennis. Omdat Hy die dag vooruit ken en presies weet watter hindernisse en uitdagings in ons pad lê, stel hierdie wysheid, kreatiwiteit en kennis ons in staat om die hindernisse óf heeltemal vry te spring óf vinniger en meer effektief te hanteer. By alles gee dit ons meer tyd om alles afgehandel te kry.

In Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Ook in Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

In stede daarvan om in die vyand se strik te trap deur te glo dat ons “te besig” is om tyd saam met God te spandeer, kom ons maak Hom ons eerste stop. Dit is immers veel beter om Hom te vra om ons voetstappe te rig – eerder as om dinge uit te sorteer as die krisis opduik. Hy het die son en maan vir Josua laat stilstaan. Ons mag dalk net verstom staan oor wat mag volg wanneer Hy ons met wysheid, kreatiwiteit en kennis vul! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U kan ken in alles wat ek aanpak. Vul my asseblief vandag met wysheid en kreatiwiteit sodat ek elke moontlike hindernisse meer effektief kan hanteer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Vra God spesifiek om jou met tydbeplanning te help – en wees sensitief as Hy jou deur sy Heilige Gees lei om aanpassings in jou lewe te maak.
  • Gesels saam: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke
Previous article: Dag 3: Hy kan jou vyande verwar - 5 Oktober 2016 Prev Next article: Dag 1: Hy kan. . . - 3 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.