Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 3: Hy kan jou vyande verwar - 5 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

In ’n videogreep op die aanlyn nuusblad, Telegraph se webtuiste het ’n trop leeus in die Mala Mala Wildreservaat in Suid-Afrika ’n buffel omsingel. Hulle was gereed om die buffel te verskeur, toe ’n onverwagse geveg tussen twee leeus uitbreek. Die uiteinde is dat al die leeus betrek is en dat die buffel skotvry kon weghardloop sonder dat die leeus dit agterkom (kyk na die video by die skakel onderaan).

Dieselfde gebeur in 2 Kronieke 20 wanneer drie weermagte op pad is om Koning Josafat en die Israeliete aan te val. Josafat se weermag sou dit nie oorleef nie. Hy het dit geweet. In angs het hy ’n vasdag uitgeroep waartydens die hele volk voor God gaan staan het. Hulle het sy aangesig gesoek en Hom om hulp gevra. In 2 Kronieke 20:17 ontvang hulle hierdie belofte van God: “Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie.”

Met dié belofte het Josafat en sy weermag die volgende dag die veldslag tegemoet gestap. Die uiteinde? God het onverwagse aanvalle op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge bewerkstellig en Josafat en sy weermag het skotvry van hierdie gebeurtenis afgekom.

In Jesaja 54:17 lees ons: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.” Ook in Deuteronomium 28:7 lees ons: “Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.”

Omdat God weet van elke aanval wat die vyand (sigbare of onsigbare) teen jou beplan, kan Hy ons beskerm – en die vyand se planne verwar. In stede daarvan om vreesagtig te raak wanneer dit voel asof ons soos die buffel deur ’n trop leeus omring word, kom ons roep soos Josafat en die volk uit na God en vertrou Hom vir ’n deurbraak. Niks is immers vir Hom onmoontlik nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek nie hoef toe te gee aan vrees wanneer ’n vyand dreig om my te verswelg nie. Help my om my geloof en vertroue in U te plaas. Veg asseblief namens my. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na die videogreep hier: http://www.telegraph.co.uk/news/2016/05/25/lucky-buffalo-miraculously-escapes-from-five-lions-because-of-in/

Opdrag vir die dag: Dink vir ’n oomblik aan iemand of situasie wat vir jou soos ’n vyand voel. Vra vir God wysheid om die situasie reg te hanteer.

Previous article: DAG 4: HY KAN ONS HELP - 6 Oktober 2016 Prev Next article: Dag 2: Hy kan ons meer tyd gee - 4 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.