Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

DAG 4: HY KAN ONS HELP - 6 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Wat as ’n ontspanne uitstappie met hulle honde begin het, het Maandag in ’n krisis vir ’n Kaapse paartjie ontaard, toe hulle deur ’n swerm bye in die Macassar-omgewing oorrompel is. Die man is vermoedelik 50 keer deur die bye gesteek. Toe hy begin swel en sukkel om asem te haal, het sy dogter hom in die voertuig gelaai en na die hospitaal gejaag.

Die verkeer op pad na Somerset-Wes was egter druk – en die man se nood het verhoog. By ’n padblokkade langs die pad, het die dogter die verkeersbeamptes om hulp gevra. Toe hulle haar pa sien, het van hulle onmiddellik in hul motors gespring en haar met sirenes en ligte tot by die hospitaal begelei. Die man se lewe is gered en hy sterk tans aan.

In ons lewens ervaar ons ook van tyd tot tyd noodsituasies. ’n Krisis duik dalk op in die werkplek, by die huis, in ons gesondheid, in ’n verhouding of selfs in ons finansies. Hierdie krisisse laat ons stres en selfs sukkel om normaal asem te haal. God ken egter elke krisissituasie en ons kan Hom daaroor raadpleeg. In Psalm 91:10,15 lees ons: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou. . . Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. . . Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.”Ook in 1 Petrus 5:7 staan geskryf: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Wat is die bekommernis of uitdaging wat jy vandag in die gesig staar? Is dit nie dalk tyd om “af te trek” en God om hulp te vra nie – en Hom te vertrou al maak niks sin nie? Hy kan ons help en kies soms om vreemde of onverwagse mense (en selfs engele) te gebruik om ons vinniger by ons eindbestemming uit te bring. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U deel kan maak van elke krisis wat ek in die gesig staar. Beskerm ek en my geliefdes vandag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag vir die dag: Maak ’n lysie van alles in jou lewe wat jou bekommer. Gee dit doelbewus oor aan God en dank Hom by voorbaat vir wat Hy kan – en gaan doen in jou lewe.

Gesels saam: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke

Previous article: DAG 5: HY KAN ONS VERRAS MET GOEIE DINGE - 7 Oktober 2016 Prev Next article: Dag 3: Hy kan jou vyande verwar - 5 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.