Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 21: Hy kan – en Hy sal! - 31 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Dit is die einde van die reeks. Stuur asseblief terugvoer oor die reeks na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Groete]

Dit was 'n warm dag op die markplein in Kapernaum, toe die Romeinse soldaat met ’n hoë rang voor Jesus gaan staan. Die dringendheid in sy houding en spanning op sy gesig was 'n teken dat hy vir 'n ernstige saak daar is: “Here,” het hy smekend begin. “Ek het ’n kneg by die huis wat ernstig siek is. Hy krul van die pyn en kan nie eens loop nie. Asseblief, kom help hom!” Sonder om te aarsel het Jesus gesê: “Ek kom dadelik.”

'n Mens sal dink dat die soldaat dadelik sou omswaai om Jesus na sy huis te begelei. Sy reaksie is egter anders. Hy staan doodstil en kyk Jesus in sy oë: “Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie! Ek is 'n man wat gesag ken. Ek het mense bo my met gesag en ook mense onder my. Sodra ek 'n opdrag gee aan mense onder my weet ek dat dit dadelik uitgevoer word. Ek weet dat U gesag het. Sê daarom sommer hier wat moet gebeur en ek glo dit sal gebeur!” Jesus was verbaas en beïndruk deur die man se geloof.  In Matteus 8:10 antwoord Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie.” In Matteus 8:14 lees ons Jesus se reaksie tot die Romeinse soldaat se woorde:  “‘Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het.’ Sy kneg het gesond geword in daardie uur.”

Wat is jou behoefte vandag? 'n Huweliksmaat? Gesondheid? Wysheid oor jou finansiële posisie? 'n Kindjie van jou eie? Wysheid oor besluite wat geneem moet word? Hoe gaan jy na God? In absolute vertroue – of met 'n mate van twyfel in jou hart? In Hebreërs 11:6 lees ons: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Ook in Jesaja 59:1 lees ons: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie.” As ons glo dat God dit kan doen en wat ons Hom vra is in sy wil vir ons lewens, kan ons die woorde in Markus 11:24 vasgryp: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Alhoewel ons God nooit kan manipuleer of vir Hom kan probeer voorskryf nie, kan ons met 'n opregte hart gevul met 'n kinderlike geloof ons harte voor Hom uitstort, wetende dat Hy vir ons 'n lewe in oorvloed kan help beleef.  Kom ons leer van die Romeinse soldaat en plaas ons geloof in God wat ons kan help. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek weet dat U aan my 'n deurbraak kan en wil bewerkstellig. Help my asseblief om geduldig te wees terwyl ek soos die Romeinse soldaat my geloof en vertroue in U plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag vir die dag: Skryf neer wat jou behoeftes en begeertes is. Gesels met God daaroor en vertrou Hom dat Hy vir jou die beste sal gee vir jou lewe. Soms beskerm Hy ons met toe deure.

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke

Previous article: Wandel in die geloof - 1 November 2016 Prev Next article: Dag 20: Hy kan jou vrymaak - 28 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.