Wandel in die geloof - 1 November 2016
Neville Turley
Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Hebreërs 11:5-6
Die lewens en dade van baie mense wat in die geloof gewandel en geleef het, is vir ons in die 66 boeke van die Bybel opgeteken. Die wat sentraal staan in God se verhouding met die mensdom is in detail opgeteken, maar daar is egter karakters wat net in die verbygaan genoem word.
In hierdie maand, voor ons die geboorte van Jesus Christus herdenk, gaan ons 'n bietjie op die minder bekende persoonlikhede in die Bybel fokus. Baie wat ons by hulle leer, kan vir ons van waarde wees op ons eie geloofspad.
Henog is een so 'n persoon van wie ons lees dat hy naby God geleef het. Sy lewensverhaal is vir ons in Genesis 5 opgeteken. Hy was 65 toe sy seun Metusalag, met wie sy naam vir ewig geassosieer sal word, gebore is.
Metusalag is die oudste man wat nog ooit geleef het. Hy was 969 jaar oud toe hy dood is. Ten spyte van al die jare wat Metusalag gespaar is, is hy voor sy vader dood. Henog het nooit gesterf nie. Die Bybel sê dit so mooi: "Henog se ouderdom was dus 365 jaar. Hy het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem." (Genesis 5:23-24)
Om in die geloof te leef, maak God altyd bly. Wanneer Jesus iemand wat glo ontmoet, verbly dit Hom en Hy sien daardie geloof raak. Die Christelike geloof beteken dat ons elke dag met ons hand stewig in die van God leef. Dit is waarvoor Henog raakgesien is. Hy het in die geloof geleef.
Ons moet Henog se voorbeeld volg. Laat die woorde wat die Bybel oor Henog sê ook van ons waar wees. Daar word gesê dat hy "geleef het soos God dit wou". Daar kan geen beter hulde oor 'n mens se lewe en getuienis gebring word nie.
Gebed: Almagtige God, maak dit vir ons moontlik om deur u Heilige Gees in die geloof te leef soos U dit wil hê. Hoor ons gebed in die Naam van Jesus. Amen